Vier vermoor vir R37; moordenaars sit lank

hande in die tronkDie mans wat vier Pakistani’s in Maart verlede jaar koelbloedig op teregstellingswyse doodgeskiet het, is Woensdag gesamentlik tot 279 jaar tronkstraf gevonnis.

Yazeed Hendricks se vrou het buite die hof ineengestort nadat sy gehoor het dat haar man tot 120 jaar tronkstraf op sewe aanklagte gevonnis is, waarvan vier vir moord was. Sy medebeskuldigde Lehano Jansen is tot 159 jaar tronkstraf gevonnis op 14 aanklagte insluitend moord, poging tot moord, kaping en ontvoering. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Die derde verdagte in die beskuldigdebank, Moegamat Nasief de Villiers, is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis – 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede en ʼn verdere drie jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

Die hof se openbare galery was gepak met familielede van die beskuldigdes, asook ʼn groot afvaardiging van die Pakistanse gemeenskap.

Jansen en Hendricks het op 19 Maart 2013 ʼn huis in Rocklands, Mitchell’s Plain, bestorm waar die vier Pakistanse mans, Ghulam Baqar, Adnan Haider, Shazad Ahmad en Muhamed Shafique, ʼn broodverspreidingsonderneming bedryf het. Hulle het die kluis geëis en ten spyte daarvan dat dit aan hulle oorhandig is, het hulle al vier mans doodgeskiet. Daar was slegs R37 en vier paspoorte in die kluis.

Die vorige dag het die drie beskuldigdes ʼn egpaar se motor gekaap, die man met ʼn vuurwapen in die gesig geslaan en later die vrou geskiet en gewond toe sy probeer het om te vlug. Hulle het die Mercedes as wegkommotor gebruik tydens die gewapende roof.

Al drie mans het vorige oortredings gehad.

Regter Burton Fourie het gesê hy het wesenlike en dwingende redes om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis oorweeg, maar voel dit was nie in hierdie saak geregverdig nie. Hy het die aanval op die vier mans beskryf as ʼn “mini oorlog” waarvoor die motivering gierigheid was.

Abid Hussein, wat sy broer, neef en twee nabye vriende in die rooftog verloor het, het ná die vonnisoplegging buite die hof gesê hy kan nie die beskuldigdes vergewe nie. “Ek is lewend, maar ek leef nie,” het hy emosioneel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dave ·

Baie dramaties – 120 jaar en 159 jaar tronkstraf en dan die antiklimaks, ‘die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word’.

CHRISTA ·

Ek stem saam Dave, dis die GROOTSTE KLUG!! Hulle sal skaars vir 25 (wat kamma lewenslank is) sit!!!

Dave ·

Meer as een keer Christa, het ek gevra wat is die sin in gevangenisstrawwe wat gelyklopend uitgedien word en steeds het niemand daarop geantwoord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.