‘Vier volmaakte vingers’ vir Mikayla

Mikayla Robbertse se hand, ná die amputasie. Foto: Verskaf

Mikayla Robbertse se hand, ná die amputasie. Foto: Verskaf

Skaars ʼn week nadat Mikayla Robbertse (9) ʼn wigamputasie in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria ondergaan het, is sy slaggereed om die wêreld met albei hande aan te pak en nou wil sy begin musiek maak.

“Dit gaan baie, baie goed met Kayla,” het Charmaine Robbertse, haar ouma wat na haar omsien, Vrydag aan Maroela Media gesê. “Sy het nog nie weer een keer van pyn gekla nadat sy geopereer is nie. Sy maak ook self haar wond skoon, die susters help net om dit weer mooi te verbind.”

Mikayla se hand voor die operasie. Foto: Verskaf

Mikayla se hand voor die operasie. Foto: Verskaf

Mikayla se middelvinger aan haar linkerhand is verlede Donderdag tydens ʼn ses uur lange operasie geamputeer nadat ʼn spoegkobra haar op 19 Desember 2011 in haar bed gepik het op die Robbertses se plaas buite Lephalale (Ellisras) in Limpopo. Voor die amputasie het sy 37 operasies ondergaan in ʼn poging om haar hand en vinger te red, aangesien die gif haar spierweefsel gevreet het. Haar vinger wou egter nie gesond word nie. ʼn Liesflap is ingeplant om weefsel en bloedtoevoer in haar hand te herstel, maar nogtans het die vinger bly verkleur en die lid het doodgegaan. Dit het haar baie pyn besorg. Dit het ook vorentoe gekrul in haar palm en veroorsaak dat sy min funksie in haar handjie gehad het. Die amputasie moes gedoen word om die pyn te verlig sodat sy die gebruik van haar hand kon terugkry en haar ander vier vingers beter kan gebruik.

Mikayla Robbertse voor haar operasie. Foto: Verskaf

Mikayla Robbertse voor haar operasie. Foto: Verskaf

Sy is reeds verlede Vrydag uit die hospitaal ontslaan en gaan nou slegs daarheen vir wondsorg. Oor ses maande sal sy hopelik haar laaste operasie moet ondergaan om die liesflap op haar hand kleiner te maak met ʼn liposuiging.

“Kayla doen nou alles met daardie handjie en sy kan dit nou heeltemal oop en toe maak. Sy gaan juis volgende week begin om by haar naskoolsentrum te leer kitaar speel. Ons soek nog ʼn plek in die Capital Park-omgewing waar sy klavierlesse kan neem. Dit was nog altyd haar droom om veral dié twee instrumente te leer speel. Sy kan nie wag vir die dag wat sy haar instrumente sal kan speel en musiek maak vir Jesus nie.”

Mikayla se pad tot dusver het verskeie mense se harte geraak. Een van dié mense is Annika Heymans van die groep Angel Children Updates. Annika skryf op die groep: “Vier volmaakte vingertjies. Dit, en ʼn dogtertjie se groot geloof dat sy sal kan klavier en kitaar speel, maak dat mens nederig word en vir God dank dat Hy sy Kayla-kind stuur om ons te leer van geloof.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

antjie ·

Wonder like nuus….jy is n bake brass nooi…alle voorsped vorentoe…luvs

oogies ·

So bly vir jou Mikayla alle seen en voorspoed vir die operasie vorentoe en vir die pad vorentoe jy is n klein engeltjie onthou Liewe Jesus het jou oneindig baie lief en hy sal jou handjie nooit los nie .

Maria van Dieweeck ·

Jy is n pragtige, perfekte engel en ek weet sommer jy gaan mooi musiek maak!

Gideon ·

Verstommend dat die dokters so lank gevat het om die vinger te amputeer! Die hand lyk klaar beter as daardie knobbel met ” vyf” vingers!

Ann ·

Gideon, dit was nie ‘n ligtelike besluit nie. Duidelik weet jy nie deur watter trauma hulle regtig gegaan het nie. Dink jy dit was vir hulle maklik om te besluit presies hoe en wat?
Moet jou asseblief nie uitlaat as jy nie die persoonlike omstandighede ken nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.