Vier vra borgtog ná moord op elektrisiën

Petrus Scholtz (Foto: Verskaf)

Die vier mense wat aangekla word in verband met die moord op Petrus Scholtz (70) sal na verwagting Dinsdag in die Port Elizabeth-landdroshof om borgtog aansoek doen.

Christine Russouw (55), haar twee kinders en Ronald Swartz (24) is in hegtenis geneem nadat Scholtz se liggaam op 19 Julie in bosse langs ʼn pad in Fairview gekry is.

Christine, haar dogter, Chantal Russouw (34), en seun, Wayne Russouw (31), is verlede maand in hegtenis geneem en aangekla vir die moord op Scholtz. Swartz is kort daarna in hegtenis geneem.

Scholtz se hande en voete was met ʼn nylontou vasgebind en sy kop met kleefplastiek bedek. Scholtz, ʼn elektrisiën, is op 17 Julie na Christine se huis ontbied vir herstelwerk. Hy is nie weer daarna gesien nie.

Chantal, Christine en Wayne Russouw.

Swartz word deur Juducare verteenwoordig terwyl die Russouw-gesin deur Regshulp SA verteenwoordig word.

Daar word beweer dat Scoltz na die huis gelok is waar die gewelddadige moord plaasgevind het. Daar word ook verder beweer dat hy in ʼn vrieskas gegooi is voordat sy liggaam buite gestort is. Sy liggaam is deur ʼn verbyganger wat op pad was werk toe, tussen bosse langs ʼn grondpad opgemerk.

Die Russouw gesin staan ook tereg op ʼn klag van roof met verswarende omstandighede, aangesien Scholtz se bakkie luidens die klagstaat met mag afgeneem is.

Die polisie het reeds die meeste van Scholtz se gesteelde besittings teruggekry, insluitend sy gereedskap en blou Isuzu-dubbelkajuit-bakkie. Die bakkie is glo aan ʼn persoon in Noordeinde verkoop en die polisie het vroeër daarop beslag gelê.

Die motief en omstandighede rakende Scholtz se moord moet nog vasgestel word.

Lees alle vorige berigte oor Petrus Scholtz op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.