Vier vrae oor die DA se ‘De Lille-klousule’

De Lille groet EFF-leier Julius Malema met haar aankoms by die gedenkdiens. Foto: EFF/Twitter

Dit gons behoorlik in die Suid-Afrikaanse politiek en spesifiek in die DA oor of die nuwe terugroep-klousule wat die afgelope naweek by die DA se kongres in Pretoria aanvaar is, spesifiek teen die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, gemik is.

Die klousule lui dat enige DA-lid in ʼn uitvoerende posisie (byvoorbeeld ʼn premier of ʼn burgemeester) wat die vertroue van die meerderheid van hul koukus verloor het, uit hul uitvoerende posisie moet bedank. As hulle dit nie binne 48 uur doen nie, verloor hulle hul DA-lidmaatskap. Kragtens Suid-Afrika se stelsel van proporsionele verteenwoordiging beteken dit hulle verloor ook hul setel, so dis ʼn baie streng nuwe maatreël.

De Lille het vandag in elk geval moontlik (tensy sy ʼn buitengewoon goeie verduideliking daarvoor het) haar doodsvonnis in die DA onderteken deur die EFF se viering van die ontslape politikus Winnie Madikizela-Mandela se lewe in Brandfort by te woon, maar dit verander nie die vraag of die klousule teen haar gebruik sou word nie.

Sedert die aanvaarding van die nuwe klousule het ʼn storm daaroor op sosiale media losgebars, met volop bewerings dat dit gemik is teen De Lille, wat slegs op die steun van die DA se koukus in die Kaapse metro kan reken, maar steeds meerderheidsteun het in die Kaapse stadsraad danksy die stemme van opposisiepartye.

So kwaai is die gewoel oor die saak dat die DA gister ʼn verklaring by monde van die party se nasionale woordvoerder, Refiloe Ntsekhe, uitgereik het wat spesifiek ontken dat die nuwe klousule teen De Lille gemik is.

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad (Foto: Patricia de Lille / Facebook)

Ntsekhe wys uit dat die nuwe klousule op alle DA-lede van toepassing is, en verwys dan die voorbeeld van ʼn paar jaar gelede toe die DA met ʼn burgemeester in die Hantam-munisipaliteit (gesetel in die Noord-Kaapse dorp Calvinia) gesit het waarvan hulle ontslae wou raak, maar in die afwesigheid van so ʼn terugroep-klousule nie kon nie.

Die Hantam-voorbeeld, so voer Ntsekhe aan, wys dat die klousule nie spesifiek op De Lille gemik is nie. Sedertdien word die verklaring met groot ywer deur sommige DA-ampsdraers versprei, met gemengde reaksie van ander Suid-Afrikaners.

Dat die sloerende DA-optrede teen De Lille tot groot verdeeldheid lei en potensieel slegte gevolge vir die party spesifiek onder Kaapse kiesers, Afrikaanse kiesers en bruin kiesers kan hê, blyk onder meer daaruit dat die invloedryke Kaapse dagblad Die Burger byvoorbeeld gister sy hele hoofartikel aan die kwessie afgestaan het, asook ʼn voorbladberig waarin De Lille haar saak in geen onsekere terme nie stel.

In die hoofartikel maan Die Burger dat talle vrae hang oor die DA se tugproses teen De Lille. “Die DA hul hom nie in glorie met die wyse waarop hy die tugproses teen Patricia de Lille hanteer nie,” verklaar Die Burger.

Dié dagblad wys voorts uit hoe ironies dit is dat die DA homself met ʼn verwoestende interne twis ophou, en dus aan die ANC die geleentheid bied om op sy voete te kom ná die Jacob Zuma-debakel.

Die Burger – wat glad nie ʼn geskiedenis van simpatie met De Lille het nie – stel dit duidelik dat hulle nie teen enige aanklagte teen De Lille is nie, maar dat die proses wat gevolg word so ondeursigtig is.

“Wat ook al die waarheid is, te midde van dit alles moet die party toegee dat van buite beskou, lyk sake glad nie goed nie. In die Wes-Kaapse DA word al selfs gepraat van ‘n breukspul wat nog verder as Kaapstad of die provinsie kan strek,” skryf Die Burger.

Op die keper beskou – en die gebeure op Brandfort daar gelaat – is daar vier vrae om te toets of die DA se standpunt dat die terugroep-klousule nie ‘n De Lille-klousule is nie, water hou:

  1. Gaan die klousule binne die volgende maand teen De Lille gebruik word?
  2. Gaan die klousule binne die volgende jaar teen enigiemand anders gebruik word?
  3. As die Hantam-situasie so belangrik was, waarom word die klousule nou eers deurgevoer en
  4. As dit nie ‘n De Lille-klousule is nie, waarom noem soveel voorstanders van die klousule binne die DA dit die De Lille-klousule?

Hoe dit ook al sy – en veral gegewe die gebeure in Brandfort vandag – die DA se De Lille-gekoppelde probleme kan nog lank by die party spook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Christo ·

Is dit die begin van die einde vir die DA beheerde stadsrade. Dit wil voorkom asof die cANCer n vinger in die paai het. Tata DA.

Cherokee ·

Julle ouens wat so lank by die DA gebly het hoef nie nou te waai nie. Julle kan maar daar bly.

Lila Botha ·

Benoude katte mask benoude spronge. Bang katte maak ondeurdagte besluite. Dit kom dalk terug na die besluitnemers. Niemand is sy posisie verseker nie.

thinus ·

Maak nie saak wat hul doen nie, dit sal die DA negatief raak, die verdeeltheid loop hoog!

Adam ·

Die DA is immers ‘n reenboog party. Bly aan die jaag en vang niks nie. Dit is gewoon onmooontlik om ‘n klomp lede met sulke diverse politieke sienings onder een dak te hou, vandaar die verdeeltheid..

MANIE ·

As jy kyk na die vrou se lojaliteit dink ek sy het niks vir die DA. Sy is klaar besig om n nessie te skrop by n ander linkse party

Lila Botha ·

Benoude katte mask benoude spronge. Bang katte maak ondeurdagte besluite. Dit kom dalk terug na die besluitnemers. Niemand is sy posisie verseker nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

As jy na 20 jaar van regstellende aksie, wat bittermin bygedra het tot die opheffing van die sogenaamde “agtergeblewe deel” van ‘n volk, nou begin beoordeel word aan jou vermoëns, jou potensiaal, jou inisiatief en jou produktiwiteit……….en nie net meer op velkleur en geslag nie, word dit al hoe moeiliker om die pos te behou wat jy gekry het gebasseer op die twee laasgenoemde kriteria. Shame man…………

Anoniem ·

Ek is keelvol vir die kat en muis speletjie van die DA. Waarom kan hulle nie kyk wat in die land aangaan en daarop konsentreer aangesien ons op die drumpel van ‘n verkiesing staan. Waarom hulle interne probleme aan die publiek oordra. Hierdie speletjie gaan van die ander DA raadslede in die parlement ook skade aandoen, aangesien daar definitief minder stemme na hulle kant toe sal gaan. Deur kinderagtigheid oor een persoon in die DA so ‘n drastiese bohaai maak en die land in onmin teenoor individue veroorsaak. Daar word in die publiek gepraat oor hulle optrede. Kry klaar en gaan voort met die land se probleme, nie net oor een persoon waarvan julle nie hou nie. Dit is soos ‘n verbrokkelde huwelik wat se vuil wasgoed in die openbaar gegooi word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.