Vier ‘vragmotorkapers’ vasgetrek

Die motor waarop die polisie beslag gelê het. Foto: SAPD

Vier vermeende kapers wat hulself glo as polisiebeamptes voorgedoen het om ʼn vragmotor te kaap, is die afgelope naweek in Kaapstad in hegtenis geneem.

Lt.kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder vir die Wes-Kaap, het gesê die inhegtenisnemings volg nadat ʼn vragmotor, wat tabakprodukte vervoer het, Donderdag in Mitchells Plain gekaap is.

“Agt verdagtes het ʼn blou lig en sirenes, wat op ʼn wit Ford Focus aangebring is, gebruik om die vragmotor van die pad af te trek en te kaap,” het hy gesê. Die vragmotor is later leeg en verlate in Macassar opgespoor.

Beamptes van die polisie se provinsiale teenkapingseenheid en speurders van die Mitchells Plain-polisie het die voorval ondersoek.

“ʼn Deeglike ondersoek het die beamptes Sondagoggend tot ʼn adres in Mitchells Plain gelei waar die eerste verdagte, ʼn 32-jarige man, in hegtenis geneem is.”

ʼn Ford Focus met ʼn sirene, luidspreker en blou lig is in sy besit gevind. “Binne die voertuig is ʼn polisiemussie en ʼn glimbaadjie gevind en daarop beslag gelê.”

Dié man se inhegtenisneming het tot die inhegtenisneming van nog drie verdagtes, tussen 28 en 33 jaar oud, in Silversands gelei.

“Omstandighede rakende die saak word steeds ondersoek en meer inhegtenisnemings word verwag. Die vrag tabakprodukte moet ook nog opgespoor word.”

Die verdagtes moet binnekort in die Mitchells Plain-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Absoluut ·

Absoluut uitstekende werk in hierdie tyd !!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Annie ·

Knap gedaan Polisie. Hoop julle kry die tabak gou en ook die ander skuldiges.

Yster ·

En waar dink julle kry hulle die klere? Nie by n winkel gekoop nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.