Vier vroue van mensehandelsindikaat gered

Die vroue is by dié luukse huis in Durban-Noord gered. (Foto: SAPD)

Vier vroue is Woensdag uit die kloue van ʼn beweerde mensehandelsindikaat in Durban, KwaZulu-Natal, gered.

Volgens die polisie is vyf vroue tussen die ouderdomme van 19 en 27 glo met beloftes van werksgeleenthede van Johannesburg na Durban gelok. Die beloofde werksgeleenthede sou na bewering behels dat die vroue by ’n oproepsentrum werk “waar hulle SIM-kaarte aan hoëprofielklante sou verkoop”.

Volgens lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, beweer die vroue dat een van hulle ’n individu in Johannesburg ontmoet het wat van haar van dié werksgeleentheid vertel het. Hy het haar glo versoek om nog vroue vir die werksgeleentheid te werf.

“Hy het tot na die vrou se ma gegaan om die wettigheid van die werksaanbod te verduidelik, en was in besit van wat gelyk het na geloofwaardige dokumente om sy bewerings en aanbod te staaf.

“Die vrou en haar ma was oortuig van die egtheid van die aanbod en het nog vier vroue, onder wie familielede, oorreed om ook die werksaanbod te aanvaar.”

Gwala sê die vyf vroue het op 28 Februarie met ʼn bus na Durban gereis waar hulle hul sogenaamde werkgewer die volgende dag ontmoet het.

“Hulle is by die bushalte opgelaai en na ’n luukse huis in Durban-Noord geneem. Met hul aankoms is hulle gevra om hulself te “verfris” en ʼn rukkie te rus voordat hulle die baas sou ontmoet. Een van die vyf vroue het egter besluit dat sy liefs nie daar wil bly nie en is kort na hul aankoms daar weg. Dis nie duidelik waar dié vrou haar tans bevind nie.

Een van die kamers in die luukse huis in Durban-Noord waar vier vroue Woensdag gered is. (Foto: SAPD)

Gwala sê dit was tydens die ontmoeting met die baas waar die aanvanklike storie verander het en hulle ingelig is dat hulle nou by die sekshandelbesigheid betrokke gaan wees. “Hulle is opdrag gegee om nie na die voorkant van die huis te gaan waar mense hulle kan sien nie.

“Een van die vroue kon egter in die geheim haar foon gebruik om hulp te ontbied. Die inligting het die provinsiale kommissaris, lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, bereik. Hy was Woensdag aan die stuur van ʼn operasie wat tot die veilige redding van die vier vroue gelei het.”

Dis nie duidelik of enigiemand in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie. Gwala sê ’n saak van mensehandel is reeds oopgemaak en vir verdere ondersoek aan die Valke oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lillian ·

Hierdie is maar die oortjies van die seekoei. Sindikate het ‘n “royal time” hier in ons land want die regering laat dit toe en SAPS is bevoeg genoeg om misdaad te bekamp nie!

Casper ·

As iets te goed klink om waar te wees dan is dit nie waar nie.

George ·

Dis sleg as jy dink om sim kaarte te verkoop is te goed om waar te wees, hulle het nagegaan en weet jy hoe goed mens papierwerk kan vervals, baie maklik. Die is nie soos die tannies op Facebook se hibiscus firming cream pyramid scheme nie.

Swerwer ·

Oudste truuk in die boek en nogsteeds val die mense daarvoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.