Vier weer in hof vir mangat-moord

Die beskuldigdes staan agter regslui in die beskuldigingsbank. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

Die beskuldigdes staan agter regslui in die beskuldigingsbank. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

Die vier verdagtes wat teregstaan van die moord op Danie Dreyer (64), voormalige polisiebrigadier en sakeman van Pretoria, het Dinsdag weer in die hof verskyn nadat hul borgtogaansoeke in Mei misluk het.

Estelle Reddy (36), haar vriend Gerhardus Pienaar Papenfus (41), Kevin Johnson (29) en Ruvan Regionald Furst (42) staan tereg op aanklag van moord wat as ʼn skedule ses-misdaad aangehoor word.

Die vier het gesamentlik in die Pretoria-streekhof verskyn waarna die saak tot 29 September uitgestel is vir verdere ondersoek. Hulle bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig Reddy het haarself op 4 April by die Villieria-polisiestasie oorgegee, waarna sy die polisie gewys het waar Dreyer op 28 Maart in sy kamer in sy huis in Villieria vermoor is. Dreyer se kamer is aan die brand gesteek. Reddy het ook uitgewys waar Dreyer se liggaam in ʼn mangat in Capital Park gestort is, langs die huis in Flowerstraat, waar Papenfus woon. Dit het die brandweer bykans vier uur geneem om Dreyer se liggaam uit die mangat te verwyder. Die liggaam is glo met die hulp van Papenfus, Johnson en Furst in die mangat gegooi waarna suur oor sy liggaam uitgegooi is in ʼn poging om van bewyse ontslae te raak.

Papenfus is kort nadat Dreyer se liggaam gevind is, in hegtenis geneem. Dreyer se voertuig en vuurwapen is in sy besit gevind. Daar was ook twee sakke met klere met bloedspatsels op in sy kamer. Die klere behoort glo aan Johnson en Furst.

Johnson is op 6 April in Eersterust in hegtenis geneem. Furst is op 12 April in hegtenis geneem nadat hy hom aan die polisie oorgegee het.

Dreyer laat twee broers, ʼn suster, drie seuns en ʼn dogter agter. Hy het ná 20 jaar in die polisie uitgetree en sy eie onderneming, Jakaranda Grafstene, begin.

Lees alle vorige berigte oor die Villieria-moord op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Goed so ·

Dit is goed so, hul moet in aanhouding bly, ek het op ‘n stadium gedink dalk net dalk kry hul borg, hulle het ‘n onskuldige man se lewe doelbewus geneem. Die Estelle het ook nog van haar vertrouensposisie misbruik gemaak – dit is die laagste gemeenste daad en dan wil sy nog ‘n kind as verskoning om uit die tronk te kom gebruik, so sy misbruik ‘n klein kindjie!!!!!!!

Minx ·

Wat was die doel om hom dood te maak? of die modus operandi ek nog nie gehoor wat die motief was nie

Maklike geld ·

Net 1 woord vir jou, maklike geld eers op ‘n lae gemene manier en toe geweldadig!!!! Hy het natuurlik agter gekom wie sy regtig is en toe doen hul dit op die manier.

Elmarie Bekker ·

Dankie vir terugvoer Maroela Media. Ek as sy naaste familielid wil ook graag weet waarom was dit nodig om hom te vermoor, julle het hom in elkgeval besteel hoekom sy lewe ook steel. Dankbaar hulle bly in aanhouding.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.