Vierde ‘dwelmmuil’ by lughawe vasgetrek

Die dwelms wat die vrou ingesluk het. Foto: Verskaf

ʼn Vierde vrou wat as ʼn dwelmmuil opgetree het, is by die Kaapstadse Internasionale Lughawe in hegtenis geneem.

Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder vir die Wes-Kaap, het Sondag gesê die vrou het op ʼn vlug van die TAAG Angola-lugredery van Luanda by die lughawe geland.

“Beamptes van die teen-smokkeleenheid verbonde aan die grenspolisie-eenheid by die lughawe het Vrydag ʼn intelligensiegedrewe-operasie by die internasionale aankomsaal gehou,” het Van Wyk gesê.

“Die grenspolisie het inligting van die misdaadintelligensie-eenheid ontvang dat twee passasiers op dié vlug moontlik in die besit van dwelms kon wees. Die passasiers het van São Paulo in Brasilië deur Luanda in Angola na Kaapstad gevlieg. Die een was ʼn Suid-Afrikaanse man en die ander ʼn vrou van Brasilië.”

Albei passasiers is met hul aankoms voorgekeer en deursoek. Die man het geen dwelms by hom gehad nie. Die vrou is na ʼn mediese instelling geneem waar daar vasgestel is dat sy 91 sakkies vol kokaïen ingesluk het. Die waarde van die dwelms moet nog vasgestel word. Die dwelms is by die instelling uit haar stelsel gehaal.

Die vrou is in hegtenis geneem en moet binnekort in die Bellville-landdroshof verskyn.

Van Wyk het gesê die grenspolisie is vasberade om smokkelaars van enige land af vas te trek wat dwelms in die land probeer insmokkel en ʼn sterk teenwoordigheid is by die lughawe. Die eerste beweerde dwelmmuil is op 20 September by die lughawe aangekeer. Dié vrou het 100 sakkies kokaïen ingesluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

vytjie ·

Ons kinners doen dinge waarvan ons as ouers nie weet nie. Maar HOOR HIER as dit ok my kind was!!! TRONK TOE. miskien sal by daar leer inplaas van vir my

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.