Vierde geval van aappokke in SA

Foto bloot ter illustrasie.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het Maandag gesê dat ʼn vierde geval van aappokke in Suid-Afrika aangeteken is.

Die 28-jarige Wes-Kaapse man het ʼn reisgeskiedenis na Spanje en het in die tweede week van Augustus na Suid-Afrika teruggekeer.

Luidens ʼn verklaring is ’n PCR-toets by ʼn private patologielaboratorium gedoen, en die monsters is by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) vir verdere ontleding ingedien.

“Openbare gesondheidsmaatreëls is ingestel om die verspreiding van die infeksie te bekamp, onder andere kontakopsporing,” het Phaahla gesê.

Meer inligting oor die regering se reaksieplanne sal na verwagting Vrydag bekend gemaak word.

Die eerste geval van aappokke is op 22 Junie in Suid-Afrika aangemeld toe ’n 30-jarige man van Gauteng positief vir die virus getoets het. Op 28 Junie het ’n 32-jarige man in die Wes-Kaap positief getoets, gevolg deur ʼn derde geval in Limpopo. Die derde persoon wat positief vir aappokke getoets het, is ʼn 42-jarige toeris van Switserland wat in Limpopo vakansie gehou het.

Indiese owerhede het intussen Asië se eerste moontlike sterfte weens aappokke aangemeld.

AFP berig dat die betrokke man (22) onlangs van die Verenigde Arabiese Emirate teruggekeer het. Hy het egter geen tekens van aappokke getoon nie, en is in die hospitaal opgeneem nadat hy simptome van enkefalitis en moegheid getoon het. Hy is op 30 Julie in die hospitaal in Kerala dood.

Dit is nog nie bevestig dat die virussiekte wel sy dood veroorsaak het nie. Altesaam 20 mense wat met die oorledene kontak gehad het, word tans onder observasie gehou. Dit sluit familielede, vriende wat saam met die man sokker gespeel het, en mediese personeel in.

Drie sterftes is onlangs onderskeidelik in Spanje (een) en Brasilië (twee) ook moontlik met aappokke verbind.

Dit is nog nie seker of aappokke wel tot hierdie sterftes gelei het nie, met nadoodse ondersoeke wat nog afgehandel moet word. Brasiliaanse owerhede het ook daarop gewys dat die oorledene aan ander ernstige mediese toestande gely het.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die uitbreking van aappokke verlede maand tot ʼn gesondheidsnoodgeval verklaar nadat al hoe meer gevalle wêreldwyd aangeteken is.

Volgens die WGO se jongste syfers is 18 000 gevalle nou al buite Afrika aangeteken.

Aappokke is ’n seldsame virusinfeksie wat gewoonlik met ligte simptome verbind word en die meeste mense herstel binne ’n paar weke. Die sterftesyfer van hierdie virus is sowat 1%.

Onlangse gevalle van die siekte word steeds oorwegend onder mans wat in seksuele aktiwiteite met ander mans betrokke is, waargeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Deidré ·

Ag asb tog kan al hierdie “siektes” tog nou ent kry. Genade hier kom nou seker weer nog 20 jab’s waarmee ons gedreig gaan word

ENFM ·

Paar vragies..
Wat was die geslag van die Switzerse toeris?
Soos ek verstaan moet mens van die “pokke” se etter neem om te bepaal of iemand die spesifieke virus het (dus ‘n tipe biopsie..) Waar pas die “betroubare” PCR toets dan nou in?
Dit steek nie maklik aan nie, mens word gewoonlik nie baie siek daarvan nie, nou eers die 4de geval in Suid-Afrika en dit word ‘n noodgeval genoem..
Klink soos iets vir “Paw patrol”, waar die mense net 4 vingers het en niks self kan doen nie, maar ten volle vertrou op baba hondjies met supermagte – geen wonder mense wil nou identifiseer as diere nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.