Vierde liggaam binne week in Macassar gevind

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Nie minder nie as vier liggame is binne ’n enkele week in Macassar in die Wes-Kaap gevind. Daar word vermoed dat dié slagoffers elders om die lewe gebring is en gedurende voortdurende kragonderbrekings in Macassar gestort is.

Inwoners voer aan Macassar het ’n brandpunt geword vir die storting van liggame aangesien misdadigers weet dat dié gebied, benewens beurtkrag, ook gereeld weens kragonderbrekings in die donker sit en die plaaslike polisie onderbeman is.

Misdadigers maak daarom nou gebruik van die alewige kragonderbrekings om hul slagoffers se liggame te stort, beweer hulle.

Die polisie is glo bewus van die probleem en het sigbaarheid opgeskerp. Die plaaslike wyksraadslid sê egter sy beroep op die regering om hulp het op dowe ore geval.

Gruvonds op gruvonds

’n Visserman het verlede Saterdag (27 Mei) die liggaam van ’n vrou in haar dertigs vroegoggend op Macassarstrand aangetref. Die liggaam het in vlak water gedryf en was die eerste van vier wat eindelik binne ’n week in Macassar gevind sou word.

Die plaaslike owerhede is die betrokke oggend ontbied en die vrou se liggaam is aan die provinsiale dienste vir forensiese patologie oorhandig vir verdere ondersoek.

Die polisie in Macassar doen in dié geval ’n geregtelike doodsondersoek.

Toe word die liggaam van ’n man die dag daarna (Sondag 28 Mei) in ’n oop stuk veld langs Macassarweg aangetref. Dié slagoffer het verskeie steekwonde aan sy gesig en nek gehad. Die steekwonde is vermoedelik met ’n gebreekte bottel toegedien.

’n Saak van moord is in dié geval aanhangig gemaak. Die presiese oorsaak van die man se dood en motief is egter nog onbekend.

Nóg ’n gruvonds is sowat vier dae later gemaak toe ’n verbyganger die liggaam van ’n man Donderdag (1 Junie) laatmiddag in ’n poel water in Macassarwerg sien dryf het.

Dié liggaam het geen sigbare beserings gehad nie en ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal.

Inwoners en polisiebeamptes het nou begin regop sit nadat ’n vierde liggaam, dié van ’n 35-jarige man, die afgelope Saterdag omstreeks 17:30 in Macassarweg gevind is. ’n Lid van die publiek het dié gruvonds gemaak en die polisie ontbied.

Die oorsaak van die man se dood is onbekend.

’n Geregtelike doodsondersoek is ook in dié geval gedoen.

Peter Helfrich, plaaslike wyksraadslid, sê dit is baie duidelik dat byna al die liggame wat in wyk 109 gestort word, liggame is van mense wat nie in die wyk woon nie.

“Dit is baie waarskynlik dat hulle elders vermoor en hier gestort is.”

Helfrich blameer die polisie én Eskom.

“Die vinnige toename in die storting van liggame in die wyk val saam met die uitgebreide Eskom-kragonderbrekings wat ons ondervind. ’n Kragkrisis staar Macassar in die gesig en misdadigers trek voordeel hieruit.”

Russell Williams, woordvoerder van die Macassar-gemeenskapspolisiëringsforum, sê daar is boonop slegs een polisievoertuig beskikbaar om Macassar te dien.

“Die polisie is eenvoudig onderbeman. Ons hét buurtwagte, maar dit is moeilik vir hulle om tydens beurtkrag te patrolleer.

Argieffoto bloot ter illustrasie(Foto: Unsplash)

“Jy is maar beperk tot ’n flitslig.”

Helfrich pak die skuld vir die toename in misdaad en moorde in wyk 109 vierkant op Bheki Cele, minister van polisie.

“Ek het verlede jaar aan die minister geskryf om hom te vra om ons plaaslike polisiestasie van meer hulpbronne en mannekrag te voorsien om hulle in staat te stel om hul werk meer doeltreffend te doen.

“Die minister se kantoor het belowe om na ons terug te kom nadat ek aan hom geskryf het. Hulle het dit nooit gedoen nie.”

Helfrich glo wyk 109 is daarom een van die donkerste plekke in Suid-Afrika om te woon.

“Wanneer hierdie voortdurende langdurige kragonderbrekings plaasvind, floreer misdadigers. Inwoners is keelvol en eis dringende optrede van Eskom en die president.”

Helfrich het op 22 Mei – dae voor die eerste van die vier liggame ontdek is – ook ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa gerig waarin hy ’n beroep op die president gedoen het om in te gryp by die voortslepende langdurige kragonderbrekings wat Macassar en die omliggende buurte die afgelope 12 maande ondervind.

Dít nadat Helfrich volgens hom geen bystand van Eskom se senior bestuur ontvang het nie.

“Dit maak my seer om dit te erken, maar inwoners in ons wyk het hulself tot sekere mate gedwing om vrede te maak met beurtkrag. Wat dit vir inwoners ondraaglik maak, is die langdurige kragonderbrekings wat begin wanneer beurtkrag eindig. Hierdie langdurige kragonderbrekings duur soms dae aaneen.

“Dit is onmenslik.

“Wanneer jy jou huis soggens verlaat, is daar geen waarborg dat jy dit weer veilig terug by die huis sal maak nie. Dit voel of ons in ’n oorlogsone is met niemand om ons te beskerm nie. Daar word van ons vergeet en niemand gee om nie,” sê gemeenskapsaktivis Felicity Solomons.

Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die storting van liggame langs Macassarweg is ’n groot bekommernis vir die polisie.

“Die polisie het sigbaarheid in die brandpuntgebied verhoog om hierdie misdaad hok te slaan en die oortreders te straf.”

Die Wes-Kaapse polisie doen intussen ’n beroep op mense om enige verdagte bedrywighede in die omgewing van Macassar onmiddellik by die polisie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Delia ·

Ek kan my nie indink hoe dit moet wees om in so n area te bly. DA wanneer gryp julle daar in. Net een voertuig vir daai hele area..sjoe.

Jacobus ·

Dit is nie die DA se werk nie, die DA mag nie mense arresteer nie. DIT IS CELE SE BENDE SE WERK. Die SAP is tog verantwoordelik vir sekuriteit en veiligheid.

Delia ·

Natuurlik kan die DA nie arresteer nie. Wat ek vra…wanneer gaan die DA druk op die regering plaas soos met baie ander sake waarvan ons in die koerant lees.

Elméne ·

Delia DIT is wat ek OOK van die grootbek DA wil weet. Hulle is so voor op die “pram” die afgelope paar weke (NATUURLIK moet ons onthou, verkiesing lê om die draai) oor HOE HULLE die tower staffie gaan swaai en “POEF” weg is die anc adders, ek ALLES is nou weer honkie dorrie met die DA AAN BESTUUR!!! Om van SIEK te word, hierdie blatante gelieg en bedrieg om stemme te werf!!

Delia ·

Allan Winde, wanneer gaan jy kyk wat aangaan. Dis ook deel van die Weskaap

Jacobus ·

Lyk my jy verstaan nie mooi nie, Allan Winde kan kyk tot hy blou is in die gesig die SUID AFRIKAANSE POLISIE DIENS IS VERANTWOORDELIK VIR WET EN ORDE IN DIE HELE SUID AFRIKA!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.