Vierde man in hof oor moord op polisiekaptein

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

ʼn Zimbabwiese burger (25) het Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklag van moord op polisiekaptein Kenneth Poortman.

Steven Meda word daarvan beskuldig dat hy saam met drie medepligtiges, Sipho Alfred Tlou (25), Themba Mbowane (34) en Thabo Mampa (wie se ouderdom onbekend is), Poortman (47) op 26 Desember in die Pretoriase middestad gekaap, verskeie kere in die bolyf gesteek en sy liggaam langs die Theo Martin-weg in Mabopane gestort het.

Volgens ʼn polisieverklaring het die beskuldigdes daarna in Poortman se voertuig en met sy dienspistool na Winterveld gegaan waar hulle deur die polisie vasgetrek is.

Meda het Maandag aan hooflanddros Desmond Nair gesê hy verstaan “net ʼn bietjie Engels”. Nair het aan Meda verduidelik dat die aanklagte teen hom tot lewenslange tronkstraf kan lei. Hy het beveel dat ʼn Shona-sprekende aanklaer Dinsdag ter wille van Meda beskikbaar is. Meda sal dan om borgtog aansoek doen.

Die hofverskyning van die vier beskuldigdes is saamgevoeg nadat die ander drie reeds verlede week voor Nair verskyn het op aanklagte van moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

Kapt. Poortman was getroud met ao. Anne Poortman, woordvoerder van die Pretoria Sentraal-polisiekantoor. Ao. Poortman is in Desember na die moordtoneel ontbied waar sy haar man se liggaam uitgeken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DPJ ·

Wat ‘n las is dit om in SA ‘n geregsdienaar te wees as alle skurke jou teken.
As jou geloof wankei is dit baie montlik dat hulle hulself verloor en ook skurke word.

Johann ·

Sluit toe en gooi die sleutels weg, sonder tolk, sonder verhoor! Jammer ek is hardvogtig, maar “buitelandse kriminele ” kom na SA om hier lekker te leef en glo hulle is bo die wet verhef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.