Vierde persoon sterf ná brandstigting-aanval

Argieffoto

Argieffoto

Die speaker van die Noord-Kaap-munisipaliteit is die vierde persoon wat dood is nadat ʼn huis in Olifantshoek, vermoedelik deur haar man, aan die brand gesteek is.

Die polisie het Vrydag bevestig Nokhaya Mjila (45), speaker van die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit, is om 06:00 in die Rosepark Medi-Clinic in Bloemfontein in die Vrystaat dood. Sy het beswyk aan die brandwonde wat sy verlede maand in die aanval opgedoen het.

Drie van haar familielede, insluitend ʼn nege maande oue baba, is reeds dood ná die aanval op 30 Mei.

“Die polisie ondersoek vier aanklagte van moord, een van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike beserings aan te rig en brandstigting teen ʼn 48-jarige man,” het kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die verdagte, wat kort ná die voorval in hegtenis geneem is, is onder polisiebewaking in ʼn hospitaal in Kimberley. Hy sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.”

Volgens die polisie het Mjila se man haar aan die brand gesteek terwyl sy geslaap het.

Lillian Dilodilo en die nege maande oue baba, Nokhanya Mjila, Nokhaya se kleinkind, is direk ná die brand oorlede. ʼn Derde familielid, Narshilia Dituku (35), is later in die hospitaal oorlede.

Mjila se man, wat ook brandwonde opgedoen het en met ʼn skerp voorwerp in sy nek gesteek is, is in hegtenis geneem en onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem.

Die voorval het plaasgevind terwyl Mjila, ʼn ANC-raadslid, by ʼn familielid se huis in Olifantshoek aangesterk het nadat sy vir ʼn onverwante rede in die hospitaal behandeling ontvang het. Die man het glo die Vrydagaand saam met ander besoekers by die familielid se huis opgedaag om die vrou sterkte toe te wens. Hulle is omstreeks 22:00 daar weg. Die man het egter die Saterdagoggend om 02:00 na bewering teruggekeer, toegang tot die huis bekom deur ʼn deur wat nie gesluit was nie en petrol oor sy vrou uitgegooi terwyl sy geslaap het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.