Vierde polisieman vas ná man se ‘martelmoord’

Argieffoto: ANA.

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het gesê ʼn vierde polisieman is Woensdag in hegtenis geneem in verband met ʼn voorval waartydens ʼn man vroeër vandeesmaand glo in ʼn polisiesel doodgemartel is.

Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, het gesê dié man is ʼn adjudant-offisier en ʼn takbevelvoerder by die Muden-polisiestasie in KwaZulu-Natal.

“Al vier polisiemanne staan tereg op een aanklag van moord, drie aanklagte van aanranding en drie aanklagte van dwarsboming van die gereg,” het Dlamini gesê.

Drie polisiemanne is op 12 Augustus in hegtenis geneem en het op 15 Augustus hul eerste verskyning in die Greytown-landdroshof gemaak. Die vierde polisieman het gister in die hof verskyn.

Mbongiseni Ndlela (37) is glo by die Muden-polisiestasie doodgemartel. Maroela Media het vroeër berig daar word beweer dat die drie beamptes, ʼn lid van die Muden-speurdiens en twee lede van die misdaadintelligensie-eenheid in Greytown, op 2 Augustus drie mense ingeneem het vir ondervraging oor ʼn moordsaak wat hulle ondersoek.

“Die drie verdagtes is in die Muden-polisieselle aangehou waar hulle aangerand en gemartel is totdat een van hulle aan sy beserings beswyk het,” het Dlamini gesê.

“Die polisiebeamptes het daarna glo ʼn plan beraam om van die oorledene se liggaam ontslae te raak en het dit in nabygeleë bosse gaan stort. Hulle het nie die voorval by hul hoofde aangemeld nie.”

Volgens Dlamini het die oorledene se familie besef dat hy nie huis toe gekeer het nadat hy deur die polisie ingeneem is vir ondervraging nie. Hulle is na dieselfde polisiestasie om hom as vermis aan te meld. Daar het die polisiebeamptes aan hulle gesê die man is dieselfde dag wat hy ingeneem is vir ondervraging weer vrygelaat.

Robert McBride, hoof van Opod, het die hofverrigtinge Woensdag bygewoon en hom uitgespreek teen die gebruik van “ou apartheid- martelingsmetodes” en polisiebeamptes aangemoedig om moderne metodes te gebruik om misdade op te los.

Die saak is tot Vrydag uitgestel wanneer die verdagte na verwagting sal aansoek doen om borgtog.

Die vier beskuldigdes bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andre ·

n Skande dat n persoon soos McBride in so n pos moet wees. Hy is nie n persoon wie homself kan uitspreek oor ongeoorloofde metodes nie. Hy moet na sy eie verlede kyk,

juba ·

Stem saam Andre. As ek McBride was sou ek my lyf skaars hou.

small minds ·

mc bride is nie die onderwerp van bespreking nie. die boelie mentaliteit wat die polisie handhaaf, is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.