Vierde Puk-student oorlede: ‘Dit is donker en stil’

Sumaré Prinsloo. Foto: Facebook

Sumaré Prinsloo. Foto: Facebook

ʼn Vierde Puk-student is die afgelope naweek oorlede nadat sy in ʼn gru-motorongeluk betrokke was.

Sumaré Prinsloo (19), ʼn eerstejaarstudent in BCom forensies aan die Noordwes-Universiteit, was ʼn week lank in ʼn koma in die waakeenheid van die Mediclinic Sandton voordat sy Saterdag breindood verklaar is.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het op 11 Julie omstreeks 11:40 op die R54 ongeveer 10 km buite Potchefstroom plaasgevind. Paramedici het Sumaré se motor in die veld aangetref waar sy steeds in die voertuig vasgekeer was. Sy het veelvuldige beserings opgedoen en moes per helikopter na die hospitaal geneem word. Vermaak kon nie bevestig hoe die ongeluk plaasgevind het nie.

Kiewiet Scheppel, woordvoerder van die universiteit, het gesê die 19-jarige was ʼn oudleerder van Hoërskool Punt in Mosselbaai. Sumaré was glo hoofmeisie van die skool.

Scheppel het namens die universiteit haar medelye teenoor Sumaré se familie en vriende uitgespreek. “Dit is altyd ekstra tragies wanneer iemand op so ’n jong ouderdom oorlede is. Ons werk deurentyd met ongeveer 14 000 studente. Dit is net ʼn wonderwerk dat die meeste gespaar word en ná ʼn vakansie terugkeer universiteit toe.”

Dit is die vierde tragedie wat die universiteit in ʼn kort tyd tref nadat nog drie studente die afgelope twee maande oorlede is. Bianca Page (19), ʼn tweedejaarstudent in aptekerswese aan die universiteit, is op 6 Julie in ʼn motorongeluk buite Potchefstroom dood. Carli Huyser (19), ʼn eerstejaarstudent, is net ʼn week vantevore ook in ʼn motorongeluk dood terwyl nog ʼn eerstejaar, Leana Labuschagne (19), op 14 Junie aan breinvliesontsteking dood is.

Boodskappe van medelye word sedert Sumaré se dood op ’n Facebook-ondersteuningsgroep gedeel wat kort ná haar ongeluk gestig is. Leerders van Hoërskool Punt het Maandag foto’s gedeel waar hulle blomme en wit ballonne op skooltrappe gepak het as huldeblyk aan Sumaré.

ʼn Boodskap wat op die dag van haar dood gedeel is, lui: “Dit is donker en stil. Die werklikheid sink nou stadig [in] … Dankie, Liewe Heer, dat ek deel kon wees van die pragkind se lewe, dankie dat U haar vir ons geleen het en dat ons so baie uit haar lewe kon leer. Wees asb. saam met [haar] mamma, pappa en sussie vanaand. Maak hulle rustig en maak hulle harte stil. Amen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Pieter Poggenpoel ·

Innige simpatie en medelye aan ouers, familie en vriende. Ek hoop van harte nie dat selfoon gebruik tydens die bestuur van die voertuig aanwesig was nie?

Debs ·

Nee Pieter, sy was nie op haar selfoon nie, ek weet dit vir ‘n feit ek ken die prentjie dieper, maar dis my plek om enige verdere kommentaar te lewe nie. Net my hart is ook in flared saam met haar dierbare ouers, sussie vriende en familie. Ek bid dat Jesus hulle sal deur dra in hierdie vreeslike donker tyd van rou. Mag Hy Sy hande op hulle le vir krag om hierdeur te kom.
Sterkte aan die Prinsloo familie.

susan meintjes ·

♥♥ my hart gaan ook uit na hierdie Puk-ouers
!!!♥♥

elize ·

Dit is verskriklik hartseer.Hoeveel van ons kinders gaan nog op daardie pad sterf voordat iets gedoen word! Daai pad is so gevaarlik. Iemand moet iets doen.

Dottie ·

Ek ry glad nie die N12 nie het al te veel ongelukke daar gesien en self amper twee keer kop aan kop botsing gehad toe ek saam ander persone die pad gery het. Ek ry eerder Parys om na Potch dit so 20 – 30km draai maar vir my eie gemoedsrus is dit nie vir my ‘n ompad nie.

Peet Schabort ·

Liewe Vader, waarom die jongmense in die fleur van hulle lewe ?
Mag daar berusting wees by die ouers en familie . . .

Cindy ·

Baie sterkte aan die familie. Dit val my op dat al 4 die studente meisies was, al 4 was 19 jaar oud en met uitsondering van een is almal dood in motor ongelukke. Maak my bang om op die pad te wees. En baie bekommer as my 18 jarige seun iewers heen gaan

Rachel Naude ·

Woorde dra geweldig baie krag. Kom ons begin lewe spreek eerder as vrees.
Here, vergewe ons vir ons onkunde en dat ons soveel “doods-vloeke” uitgespreek het oor die N12. Ons vra dat U elke vloek nietig sal verklaar en ons help om woorde van lewe en veiligheid te spreek.

Christine Boshoff ·

Al wat ons kan doen is om te bid vir julle as gesin en dat die Here jul trane sal afdroog. Baie sterkte

Leonie ·

Innige simpatie aan die ouers en sussie! Rus Sag Sumarè! Die Here het jou gekies vir sy blommetuin!
Daar sal defnitief ‘n plan moet gemaak word aan daai Potch pad. So tragies!

Hannelie Horn ·

Ai dis so verskriklik hartseer! My innige simpatie aan haar familie. Mag Jesus jul trane afdroog en styf vashou in hierdie verskriklike hartseertyd. Sy is so ‘n mooie kind .

Tannie Marie Hattingh ·

As ouma van ‘n kleindogter wat in die Kaap studeer gaan my hart ten volle uit na julle. Ek sal in my gebede saam met julle wees in die tyd vorentoe! Sterk staan!

Liezil ·

Korreksie, dit is die 5de Puk dame wat ons vanaf die 14de Junie verloor het.

Gideon ·

Hoekom hou julle aan om die 5e meisie te “vergeet”. Pas dit nou nie in, omdat dit selfmoord was?

Brenda ·

Here bewaar asb ons kinders…
Sterkte aan al die ouers en familie in die hartseer tyd.

Dave Smit ·

Pieter Poggenpoel
Jou komentaar oor die selfoon is ongevraagd Sterkte aan die geliefdes wat `n pragtige mens

Alicia ·

Ek wens ook net die paaie buute potchefstroom kan vir n slag geverfverf word. Dis gedeeltelik waarom die paaie so onveilig is ! Veral in die aand.

susan ·

Daai pad is die pad van die dood. Iemand sal iets moet doen om hom meer toegankliker te maak. Daar is geen strepe, trokke en taxis ry soos hulle wil. Ek ry daai pad gereeld en is n senuwee wrak as ek by my bestemming uitkom. Jammer oor julle verlies mamma, pappa en sussie.

nig ·

Maar wat word gedoen aan hierdie pad? Hoekom is dit so gevaarlik – is daar baie draaie? Ry die mense te vinnig of is die pad in ‘n swak toestand? Ek ken nie die pad en sou graag menings wou hê. Ek dink as spoed die oorsaak is moet daar baie, baie streng opgetree word en daar moet dalk sigbare polisiëring te alle tyd op daardie pad wees. Dan moet daar hierdie growwe riwwe wat mense laat spoed verminder oor die ry oppervlak installeer word – ek weet nie ek sou net regtig wou weet wat elke keer die oorsaak van die ongelukke was sodat stappe geneem kan word om verdere hartseer en verlies te voorkom.

Sollie ·

Hierdie ongelukhet helder oordag gebeur. ER24 kon nie sê wat die oorsaak was, maar sekerlik moet hier nou navorsing gedoen word oor hoekom daar sovele ongelukkge gebeur. Dis baie erg dat mense moet afskeid neem van ‘n jongmens in haar fleur so daar moet nou regtig plan gemaak word en gekyk word wat veroorsaak al die ongelukke. Elke keer lees mens dis ongeveer 10km of so buite Potch – wat is daar net buite die dorp wat ongelukke juis daar rond veroorsaak en wat doen die verkeersdepartement/”authorities” aan dit?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.