Vierde rower vas ná skietery by skool

Die wapens waarop beslag gelê is.

ʼn Vierde verdagte wat na bewering Donderdag betrokke was by ʼn skietery tussen rowers en polisie by die Edenvale High School in Edenvale aan die Oos-Rand is gister laatmiddag vasgetrek.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het die inhegtenisneming aan Maroela Media bevestig.

Makhubele verduidelik dat daar volgens die inligting wat tans beskikbaar is, ongeveer 11 mense by dié rooftog by die skool betrokke was.

Die skietery het ontstaan toe die polisie op die toneel aangekom het net toe die groep rowers op die vlug wou slaan. Twee verdagtes is in die spervuur doodgeskiet en ʼn derde is gewond. Die gewonde verdagte word tans onder polisiebewaking in ʼn hospitaal behandel.

Nog twee verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem waarna ongeveer ses ander in twee verskillende motors op die vlug geslaan het – vyf in ʼn Toyota Corolla en een in ʼn Polo.

Die verdagte in die Polo is die vierde verdagte wat gistermiddag, enkele ure ná die rooftog, elders in Edenvale in hegtenis geneem is. Makhubele verduidelik verder dat dié voertuig aan die ouer behoort wat ook in die skietery gewond is.

Die Toyota Corolla behoort glo aan ʼn Uberbestuurder wat in die skool se parkeerterrein gestaan en wag het gedurende die rooftog. Vyf verdagtes het gedurende die chaos die bestuurder oorval waarna hulle met hom stééds in die motor op die vlug geslaan het. Die rowers het later die bestuurder in die Johannesburgse sakesentrum afgelaai waarna hy sy ontvoering by die polisie aangemeld het.

Die voertuig is sedertdien deur die polisie gevind, maar die vyf verdagtes is steeds op vrye voet.

Volgens Makhubele het die polisie ook op vyf vuurwapens op die toneel beslag gelê.

Die polisie ondersoek tans sake van poging tot moord, roof, asook die onwettige besit van vuurwapens.

Eksamens uitgestel

Edenvale High School het intussen op sy amptelike Facebookblad bevestig dat dié skool vandag 08:00 tot 13:00 oop sal wees vir leerders wat berading verlang ná gister se gebeure.

Die departement van onderwys het ook toestemming gegee dat die eksamenvraestel wat veronderstel was om vandag geskryf te word na Maandag 4 Maart verskuif word. Gister se vraestel is ook herskeduleer vir eerskomende Woensdag.

Die normale toetsrooster sal vanaf Maandag gevolg word.

Lees Maroela Media se vorige berig oor die voorval hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris Ws ·

Ek is bly dat daar nou 4 gevang is.Ek hoop net hul vonnisse sal die swaartse wees wat ‘n hof KAN ople aangesien hulle skool kinders in groot gevaar gestel het.

David ·

Ongelukkig is net die twee, wat doodgeskiet is, nie meer kriminele nie. Die ander is, gevang of nie, eersdaags weer terug op die straat.

Ek wens die gewonde siviele persoon sterkte toe met herstel van die wond en die trauma. Ook die kinders, ouers en onderwysers om vrede te maak.met die trauma.

Johan Barnard ·

Hulle wou seker maar ‘n bydrae maak tot die ANC se verkiesingsveldtog se geldkoffers, roof is mos nog al die jare die inkomstebron hiervoor.

Abe ·

Johan Barnard,
Ek weet darrem nie of dit regverdig is om te se nie. Is dit?

Francois ·

Ek kon my oe nie glo toe ek die berug lees nie.
Maar ek is nog meer verbaas dat my vriende in die land nie eers verbaas of geskok is nie ?

Jepetto ·

Die Poliesie doen goed die laaste paar maande ons hoor gereeld van skelms wat geskiet word mooi so hou so aan

Mickey ·

Maroela Nuus let wel geen ouer is gewond in die proses nie. Wel 2 rowers wat dood geskiet is en 1 wat gewond is. Maar geen ouer is geskiet nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.