Vierde verdagte gevonnis vir tiener se gru-moord

Argieffoto

Argieffoto

Elmario Eugene Maasdorp, die man wat skuldig bevind is aan die gewelddadige bendeverkragting en gru-moord van die 14-jarige Valencia Farmer in 1999, is Dinsdag in die Blue Downs-landdroshof gevonnis.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het gesê Maasdorp (38) is tot 23 jaar tronkstraf gevonnis vir verkragting en 23 jaar tronkstraf vir moord. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.

Op 26 Junie 1999 is Farmer in ʼn vervalle huis in Eersterivier in die Wes-Kaap oorval, herhaaldelik verkrag en verskeie kere met ʼn mes gesteek. Die skoolmeisie kon daarin slaag om na ’n nabygeleë pad te kruip ná die aanval en bure het haar ma geroep wat met haar hospitaal toe gejaag het. Farmer is 53 keer met ʼn mes gesteek en is twee dae later in die hospitaal dood.

Sy het egter aan die polisie gesê wie haar aanvallers was voordat sy dood is. Daar word geglo dat sy verkrag en vermoor is deur minstens ses mans, maar slegs vier is aan die misdaad skuldig bevind.

Maasdorp, Franklyn Llewelyn Roberts, Russel van Wyk en Glenville Faro is vir die moord in hegtenis geneem. Roberts is in 2001 lewenslank tronk toe gestuur, terwyl Faro ook ʼn lewenslange vonnis ontvang het en Van Wyk 23 jaar tronkstraf.

Maasdorp is aanvanklik vrygelaat aangesien daar nie genoeg bewyse teen hom was nie, maar is op 13 September 2015 weer in hegtenis geneem. Volgens Ntabazalila het Maasdorp skuld erken op die aanklagte teen hom en ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Maasdorp het nooit aangedui waarom hy gedoen het wat hy gedoen het nie.

Advokaat Louis Van Niekerk, die staatsaanklaer, het gesê hy hoop Maasdorp se vonnis sal berusting bring vir Farmer se ma wat in depressie verval het ná haar dogter se grusame dood. “Sy was 14 jaar oud, sy het haar hele lewe voor haar gehad. Daar was geen uitlokking nie en sy was ten tyde van die voorval baie weerloos,” het Van Niekerk gesê. “Ons sal seker maak dat haar ma enige hulp kry wat sy nodig het om hierdie hoofstuk te kan afsluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

DPJ ·

Na soveel jaar uiteindelik gevonnes. Ja al is die leun hoe snel die waarheid agter haal hom wel.

Aler ·

Net 23 jaar????? Daai 14 jarige kon nog 60 geword het as dit nie aan haar gedoen is nie!!!

Maggie ·

Eers loop hy 19 jaar vry en kry dan 23 jaar , dit klink maar nie regverdig nie

SNEL ·

Ja, dan wonder mens wat iemand met so siek brein in daai 19 jaar aangevang het, waaraan is hy nog skuldig waarvan die gereg net nie weet nie. Ek glo nie hy het vir 19 jaar “skoon” gelewe nie, daar moet nog geraamte in daai kas wees. Die vonnis is n grap, 23 jaar waarvan hy weer nie eers die volle tydperk gaan uitdien nie….of is dit nou 46 jaar, 23 vir verkragting + 23 vir moord (hulle sê dit gaan aaneenlopend uitgedien word, so is dit nou 46 jaar) waar lewenslank net beter sou geklink het vir so misdaad. Die arme kind, maar net 14 jaar oud gewees, nog bloedjonk en hulle verniel haar so vreeslik. Die vrees en pyn wat sy nie moes verduur het nie. Kan nie dink dat iemand so wreed teenoor n ander kan wees nie. Kyk daai berig oor die twee wat betrokke is by verspreiding van kindermishandeling videos en dink dis reg. Hoe kan mens genot daaruit put om iemand anders so in pyn te sien en te dink dis reg, …dis siek verby.

Pietman ·

Hierdie ‘gelyklopende’ vonnisse is n klug. Buitendien sit hy net n klein gedeelte van die ’23 jaar’. Geen afskrikmiddel vir misdadigers as jy na ons howe se vonnisse kyk nie. SKANDE.

Oom Boer ·

Dit is hartseer dat ‘n jong 14jarige kind haar lewe op so ‘n wyse ontneem is en nie eers te praat van die impak en letsels wat dit op die arme ouers,familie lede en vriende asook die bree gemeenskap plaas nie. Hierdie bende euwel moet hand en tand beveg word wat net maak en breek soos hul wil en onskuldiges moet vir hul swak aktiwiteite boet. Hierdie kind mag vandag ‘n baie belangrike en proffessionele rol in die gemeenskap geoffer het, maar haar lewe is kort geknip soos ‘n lam in die slagpale. Dit was wreed en wandadig van hierdie lafhartiges wat eintlik die kind moes beskerm het. Bendes dink hul is Heroes, maar inderdaad is hul ‘n nul, swakkelinge met swak selfbeeld wat probeer om ‘n skrikbewind in gemeenskappe teweeg wil bring. Roei die euwel van bendes en drugs uit. Aan die Farmer gesin wil ek net se, dit is swaar om so groot verlies te verwerk veral die manier wat dit plaasgevind het en wens jul alle simpatie en sterkte toe en Mag God jul harte aanraak en heel om te vergewe en berusting vorentoe te vind. Sy is nog tuis in jul harte vir ewig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.