Vierde verdagte vas ná Calitzdorp-moord

Lourens de Villiers. (Foto: Facebook)

’n Vierde verdagte is in hegtenis geneem in verband met die onlangse moord op Lourens de Villiers van Calitzdorp in die Klein-Karoo.

De Villiers (66) is verlede week dood voor sy huis buite die dorp aangetref.

Sers. Chris Spies, woordvoerder van die polisie, sê ’n 23-jarige man is Woensdagoggend in Besemkop naby Calitzdorp in hegtenis geneem op aanklag van moord.

Die verdagte sal na verwagting vandag (22 April) saam met sy drie medebeskuldigdes in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Maroela Media het vroeër berig ʼn tiener (14) het homself reeds Saterdag aan die polisie oorgegee in verband met die voorval voordat ʼn 30-jarige man op aanklag van moord en die besit van gesteelde eiendom in hegtenis geneem is. Dié man is intussen geïdentifiseer as Aubrey Abrahams.

ʼn 15-jarige seun is dieselfde dag aangekeer nadat hy ook met die voorval verbind is.

Dié drie verdagtes het reeds Maandag in die hof verskyn waarna die saak tot vandag uitgestel is.

Abrahams en die 15-jarige is nog in aanhouding. Die 14-jarige verdagte is intussen in sy ouers se sorg vrygelaat.

De Villiers se liggaam is verlede Dinsdag gevind nadat sy familie onraad vermoed het toe hulle hom nie in die hande kon kry nie. Sy bakkie was weg, maar is later in Matjiesfontein gevind.

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Toetsie ·

Kinders wat al moor, dit is verskriklik! In sy ouers se sorg vrygelaat! Regtig?? As jy groot genoeg is om te moor, is jy seker oud genoeg om tronk toe te gaan!

Jack ·

Die platteland leer nou vinnig by ons manne van die stad. Val aan in groepe van 4 of meer en as jy n vrou en n kind kan voor stoot is sukses gewaarborg. Die land is werklik in n groot gemors.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.