Vierde verdagte vas ná moord op PE-man

Petrus Scholtz. Foto: Verskaf

ʼn Vierde verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op die 70-jarige Petrus Scholtz van Port Elizabeth.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 24-jarige man is Donderdagaand in Noordeinde in hegtenis geneem.

Hy sal vandag saam met die ander verdagtes, Christine Russouw (55) en haar twee volwasse kinders, in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Scholtz se liggaam is op 19 Julie tussen bosse langs ʼn pad in Fairview gevind.

Russouw, haar dogter Chantal Russouw (34) en seun Wayne Russouw (31) is die volgende dag in Woltemadestraat in Kabegapark in hegtenis geneem in verband met die moord.

Christine Russouw (Foto: Facebook)

Die ma en haar twee kinders het tydens hul eerste hofverskyning skuld ontken op alle aanklagte teen hulle waarna die saak tot 30 Julie uitgestel is.

Die polisie het ook reeds die meeste van Scholtz se gesteelde besittings teruggekry, insluitend sy gereedskap en blou Isuzu-dubbelkajuit-bakkie. Die bakkie is glo aan ʼn persoon in Noordeinde verkoop en die polisie het vroeër daarop beslag gelê.

Scholtz, wat vir ʼn elektriese firma gewerk het, is op 17 Julie met die werksbakkie by sy werk weg huis toe. Hy is die aand weer by sy huis weg om ʼn kliënt in Kabegapark te besoek. Hy is daarna nie weer gesien nie. Volgens die polisie het hy in sy vrye tyd elektriese herstelwerk gedoen.

Sy liggaam is deur ʼn verbyganger wat op pad was werk toe, tussen bosse langs ʼn grondpad opgemerk. Scholtz se hande en voete was met ʼn nylontou vasgebind en sy kop was met kleefplastiek bedek. Die polisie het ook vroeër gesê Scholtz was “gewelddadig aangerand”, hoewel die presiese oorsaak van sy dood nog nie bekendgemaak is nie.

Die motief en omstandighede rakende Scholtz se moord moet nog vasgestel word.

Lees alle vorige berigte oor Petrus Scholtz op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lindie ·

Genade!! Het die mensdom dan nou heeltemal dol geraak? Moet mens so gierig raak om iemand dood te maak vir sy aardse besittings. Die moordenaars moet net weet “Who lives by the sword dies by the sword” Daar sal hulle nie verby kom nie.

jaco ·

Weet die polisie nie dat ons almal deur hulle plan sien nie? Dit raak regtig nou afgesaag: blameer wit naasbestaandes of wit vriende/kennisse elke keer as ‘n wit mens vermoor word.

Katerina ·

Volgens wat ek in die Herald Live gelees het, is hierdie gesin alles behalwe engeltjies.Lees maar self en besluit maar self.

Juffie ·

Gereg en geregtigheid sal seëvier. Intussen was die hele land weer ophol oor die geweld en wat nog in ons land. Daar word gesê ” ‘n mens se eie honde byt die seerste!”

Ag nee juffrou ·

SO DIE WAS NIE GEWELD NIE??? Of probeer jy weer die aanvalle op mense deur ander groepe probeer marginaliseer? Natuurlik byt mak honde en vreemde honde . maar die vreemde honde het al duisende gebyt, die mak honde maar omtrent 10 oor ‘n hele paar jaar .. so kry jou feite reg . .en verder DIT IS EN BLY GEWELD . en NEE GEREGTIGHEID seevier nie altyd nie. Twee ouens sit in die tronk vir ‘n kisvoorval en die plaasmoordenaars loop STEEDS BUITE ROND .wat se geregtigheid is dit?

Damian ·

Dit is aaklig . mag die ERGSTE Straf aan hierdie moordenaars toegeken word as hulle skuldig bevind word .dit is ONAANVAARBAAR om ‘n onskuldige ou mens so te verniel en te vermoor . SLUIT TOE EN GOOI DIE SLEUTEL WEG

treurgrond ·

Stem saam met Damian. SLUIT TOE EN GOOI DIE SLEUTEL WEG.
Mag hulle geregtigheid in die tronk kry. Drie teen ‘n 70 jarige man. Hoe kan ‘n mens so iets doen.

Reinier ·

Ek sien nêrens in die berig dat hulle sê die beskuldigdes is kennisse of naasbestaandes van die oom nie. As hulle die moord gepleeg het moet hulle aan die pen ry, maak nie saak watter ras of verwantskap hulle het nie. Polisie sal nie net iemand kies om te blameer nie, daar moet leidrade wees wat hulle verbind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.