Vierde verdagte wat polisiestasie beroof, vas

Nkanye Matshidiso word gesoek in verband met ‘n roof by ‘n polisiestasie in die Noord-Kaap. (Foto: Verskaf)

’n Vierde verdagte wat gesoek is vir ʼn rooftog in Oktober verlede jaar by die Windsorton-polisiestasie in die Noord-Kaap, is Woensdag deur die Valke aangekeer. Dit is binne 24 uur nadat sy foto deur die polisie gesirkuleer is.

Die 28-jarige Nkanye Matshidiso, ook bekend as “Papa”, is Dinsdag geïdentifiseer as een van die verdagtes wat met die rooftog verbind word. Sy foto is sedertdien op verskeie media platforms sirkuleer.

Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, sê die Valke se Park Road-taakspan het Matshidiso in die Vrystaat vasgetrek nadat hy aan sy foto herken is.

Hy sal na verwagting Vrydag in die Virginia-landdroshof verskyn.

Maroela Media het destyds berig ’n Wit Audi A3 met ’n Botswana-registrasienommer het op 2 Oktober omstreeks 22:30 voor die polisiestasie stilgehou waarna vier verdagtes vuurwapens op polisielede aan diens gerig het. Die verdagtes het die beamptes vasgebind voordat hulle met twee R5-gewere, vier 9 mm-pistole en ammunisie op die vlug geslaan het. Polisiebeamptes se persoonlike items is ook gebuit.

Dit het later aan die lig gekom dat hulle omstreeks 02:00 die volgende oggend by nóg ’n gewapende roof by ’n BP-vulstasie in Virginia betrokke was. Een slagoffer is in dié rooftog gewond en verskeie ander van hul persoonlike besittings beroof.

Matshidiso se medepligtiges, Godfrey Dabie (32), Washington Tawanda (26) en Pule Sephoye (30), is reeds in hegtenis geneem en is tans in aanhouding.

Die Valke het sy waardering teenoor die media en lede van die gemeenskap uitgespreek vir hul hulp om die skuldige so vinnig vas te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stofdonkie ·

Hoe kan die valke hulle dank uitspreek oor die hulp om die skuldige vas te trek nog voor hy in die hof verskyn het? Is hy nie nog net ‘n BEskuldigde nie? Het die valke dan nou sommer die reg om iemand te verhoor en skuldig te bevind nog voor hulle hom gearresteer het?

ES ·

Skokkend dat jy ‘n polisiestasie met gewapende polisielede kan roof… dit wys jou net dat daar nie ordentlike vuurwapen opleiding en omgewingsbewustheid is by die meerderheid van polisielede nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.