Viering van Brandfort se nuwe naam ʼn ‘sirkus’

Brandfort in die Vrystaat sal binnekort Winnie Mandela heet. (Foto: DA/Facebook)

Die beplande verrigtinge om die amptelike naamsverandering van Brandfort na Winnie Mandela te vier, is net enkele dae nadat ʼn aanwysingsbord met die nuwe naam daarop geskend is opnuut uitgestel.

Die viering sou Sondag op die 85ste geboortedag-herdenking van Winnie Madikizela-Mandela, oudpres. Nelson Mandela se voormalige vrou, plaasgevind het. Pres. Cyril Ramaphosa het in ʼn huldeblyk aan Madikizela-Mandela na die beplande naamsverandering verwys.

Die feesviering, wat in ʼn markiestent op die dorp sou plaasvind, het egter nooit plaasgevind nie.

Tankiso Zola, woordvoerder van die departement van sport, kuns, kultuur en ontspanning in die Vrystaat, het Maandag aan Maroela Media gesê die geleentheid is tot “verdere kennisgewing” uitgestel, of tot daar op ʼn nuwe datum besluit is.

Volgens die DA is die feesviering egter net tot Donderdag uitgestel.

Op ʼn vraag oor hoekom die geleentheid uitgestel is, het Zola gesê Maroela Media moet later weer met hom kontak maak of ʼn e-pos in verband met die navraag stuur. Maroela Media wag steeds vir terugvoer hierop.

Die departement het in Augustus ook die viering uitgestel sonder om duidelike redes vir die besluit uit te stippel.

“Die uitstel en heruitstel van die onthullingsgeleentheid, asook die niebestaande proses van openbare deelname, is weereens ʼn bewys van die soort dienslewering waaraan die mense van Brandfort en die Vrystaat onder ANC-bewind gewoond moes raak,” sê George Michalakis, ʼn DA-lid en lid van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP).

n Twitter-gebruiker het dié foto gedeel. (Foto: Aphumelele Mdlalane/Twitter)

ʼn Aanwysingsbord met die dorp se nuwe naam is Vrydag, slegs dae voor die beplande feesviering, geskend, vermoedelik deur woedende inwoners.

Inwoners op dié dorp, asook opposisiepartye, het hulle sedert die naamsverandering voorgestel is tot sosiale media gewend om hul besware te kenne te gee. Talle het die verandering boonop as ʼn verkwisting van geld bestempel.

“Dit is logika soos dié wat maak dat mense in Brandfort en oor die Vrystaat heen steeds in armoede en met puttoilette leef. Sê eerder vir die mense wat die begroting vir die naamsverandering is en gee hulle eerder wat hulle wíl hê,” het een Twittergebruiker geskryf.

Die vorige geleentheid is glo uitgestel omdat die departement oorhaastig was met die onthulling en na bewering nie gewag het vir die vereiste “afkoeltydperk” om te verstryk voordat die nuwe naam amptelik bekend gestel is nie.

ʼn Tydperk van 30 dae moet gegun word om besware teen ʼn naamsverandering in te dien.

Talle inwoners het dít reeds gedoen in ʼn griefskrif wat deur die VF Plus opgestel is. Meer as 500 mense het die griefskrif onderteken.

Die opposisieparty meen die ANC is onverantwoordelik om Brandfort se naam te wil verander terwyl daar veel belangriker diensleweringsprioriteite is.

Armand Cloete, ʼn VF Plus-LP in die Vrystaat, sê die naamsverandering is niks anders nie as ʼn verkiesingsfoefie om die aandag van swak dienslewering af te trek.

“Die voorgestelde naamsverandering sal onaanvaarbare finansiële gevolge vir alle sfere van die regering inhou. Die verandering sal geensins bydra tot armoedeverligting, infrastruktuurontwikkeling of plaaslike ekonomiese groei nie.”

Marieta Visser, ʼn DA-raadslid en inwoner, het ook ʼn sogenaamde Paia-aansoek ingedien om inligting oor die proses van openbare deelname te bekom.

Michalakis sê intussen die enigste manier waarop die provinsiale regering hom nou verdere verleentheid kan spaar, is om die proses op te skort wat die ANC eensydig op die gemeenskap afgedwing het.

“Ons is nie verbaas oor dít wat nou ʼn ongemaklike vertoning van onbevoegdheid en ʼn sirkus geword het nie,” sê Michalakis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ash

Daar is geld en tyd om dorp name te verander maar wanneer dit kom by die land se infrastruktuur is dit n ander storie…

Pablo

Die verkiesings kom.

Marius

Die hele regering is n sirkus , hoekom is die nou nuus??

Nozi

Wat het Brandfort met winnie mandela te doen?

marius

En die hoofman prys terwyl die ikoon in sy graf tol …..