Vieringe gereël vir wyle Hugh Masekela

Hugh Masekela

Die Suid-Afrikaanse jazz-legende Hugh Masekela se begrafnis sal ʼn privaat funksie wees, maar daar word ʼn rits huldeblykgeleenthede gereël om sy lewe te vier.

Maroela Media het vroeër berig die wêreldbekende trompetspeler is Dinsdag in die ouderdom van 78 oorlede nadat hy sy stryd teen prostaatkanker verloor het.

Masekela se seun, Selema “Sal” Masekela, het die publiek bedank vir hul ondersteuning aan die familie in hulle tyd van rou en gesê hulle word versterk deur die huldeblyke en boodskappe van medelye wat van oor die wêreld gestuur word. “Ons staan verstom oor die manier waarop mense van reg oor die wêreld heen hulself uitdruk, die manier hoe my pa se musiek hulle aangeraak het en hoe hy ʼn verskil in hulle lewens gemaak het,” het Sal gesê. “Elke dag wat ons die televisie, radio of rekenaar aanskakel, staan ons verstom. Dit het vir ons familie geweldig baie beteken, so baie dankie vir almal wat dié stories deel en ons hoop dat hulle steeds die stories sal bly deel.”

– ʼn “Going Home Celebration”, ʼn tipe gedenkdiens, word Vrydag by die Sankopano-gemeenskapsentrum in Alexandra Township gehou waar familie, vriende en die kunstegemeenskap hul huldeblyke kan deel. Masekela het hier sy musikale reis in die 1960’s begin.

– ʼn Hugh Masekela-erfenispark, ʼn oudiovisuele viering van die musikant se lewe en sy ses dekades lange loopbaan as kunstenaar en aktivis is by Zoo Lake se Park View-gholfklub in Johannesburg te sien van 26 Januarie tot 1 Februarie.

– ʼn Hugh Masekela- musikale erfenis, ʼn musikale viering van sy lewe met verskeie kunstenaars wat saam met hom gewerk het, word Sondag by die Universiteit van Johannesburg se Soweto-kampus gehou.

Sal het bygevoeg die familie het besluit dat die begrafnisdiens privaat sal wees en nie oop sal wees vir die publiek of media nie – volgens een van Masekela se laaste wense. Die datum is nog nie bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.