Vierling is twee jaar oud: ‘Hulle is eintlik ʼn wonderwerk’

kaap-vierling4Die Du Plessis-vierling van Kaapstad het die naweek hul tweede verjaardag gevier.

Volgens hul ma, Tracy, het Hannah, Isabella, Grace en Jane dit behoorlik gevier. “Ons het die partytjie sommer by die huis gehou. Die springkasteel was Sondag nog opgeslaan, dus het hulle eintlik die hele naweek verjaar. Familie en vriende, die mense wat deel is van die vier se lewens, het saam met ons die geleentheid gevier.”

Die vierling is op 30 weke op 10 Desember 2014 prematuur gebore. Hulle is in Februarie verlede jaar, 70 dae later, uit die Mediclinic Panorama ontslaan.

Volgens Tracy vorder die vierling uitstekend. “Hul ontwikkeling is heeltemal normaal. Dis eintlik ʼn wonderwerk dat hulle geen agterstand het nie. Hulle bereik al hulle mylpale en hul grootste gesondheidsprobleme is maar die allergieë wat hulle by ma en pa gekry het. Die vier het ook vanjaar waterpokkies gehad en dis darem nou verby.”

Tracy het gesê die vierling is in November by ʼn dagsorgsentrum ingeskryf. “Ons het agtergekom hulle raak verveeld by die huis en het ietsie ekstra nodig. Mamma moes dit maar doen, al was dit vir my baie moeiliker as wat dit vir hulle was.”

Volgens Tracy kom die vier se persoonlikhede nou baie sterk deur. “Twee van hulle het hul pa se obsessief-kompulsiewe versteuring. Al is hulle nog so klein, hou hulle niks daarvan as hul handjies vuil is nie en moet ons dit heeltyd skoonmaak. Hannah en Isabella soek mekaar die hele tyd. Hulle speel saam en doen saam kattekwaad.”

Tracy sê sy en Jean kry egter nog nie baie slaap nie. “Hulle is almal in hul eie bedjies, maar ek dink nie hulle gaan sommer gou deurslaap nie. Dit lyk ook asof een van ons kinders ʼn vegetariër wil wees, terwyl die ander drie weer net vleis wil eet.”

Volgens Tracy keer mense hulle ook steeds voor wanneer hulle met die vier op ʼn uitstappie gaan.

Die vierling bestaan uit twee identiese tweelinge. Hannah en Isabella is die een identiese tweeling en Grace en Jane die ander.

Jean en Tracy is al sedert 2001 saam en is op 16 Desember 2006 getroud. Hulle het in 2008 besluit om met ʼn gesin te begin. Ná jare se onsuksesvolle probeerslae het Tracy op 10 Junie 2014 uitgevind sy is swanger nadat sy vir die tweede keer in vitro-bevrugting ondergaan het.

Lees alle vorige berigte oor die Kaapstad-vierling op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Frenette ·

Lekker om bietjie goeie nuus te lees so tussen al die moord en doodslag. Pragtige vierling!

Elsabe ·

Tracy ek is GROEN van jaloesie op jou! O aarde hulle is pragtig! Wens ek kon hulle kry om elke dag vir hulle stories te lees! Kinders van hierdie oudersom is soos sponse! Dit moet ‘n ellendige besige huishouding wees….maar so ongelooflik wonderlik! My allerbeste wense vir jou en Jean met hierdie 4 pragtige geskenke wat julle geleen is! Baie voorspoed, seen, goedheid en guns vir julle!

Retha Basson ·

Pragtige dogtertjies. My seun is op 32weke gebore. 8Weke prematuur.
Ek glo julle het n fout gemaak deur te se hulle is 30weke prematuur. Dis onmoontlik aangesien n normale swangerskap 40weke is.
Dankie vir die berig…..kan ons meer positiewe verhale lees asb.

Uvonka ·

Skattige, pragtige meisiekinders. Laat my sommer ‘n traan pik van verlange na my kleindogters.

Anoniem ·

Liewe Tracy en Jean, julle is geseën met ‘n baie unieke gesin. Ons het ‘n identiese tweeling, en daar was dae wat ons gewonder het hoe ons hulle OOIT gaan groot kry. As mens egter die eerste paar (slapelose) jare kan oorleef, wag daar ‘n leeftyd se spesiale vreugde en plesier! Koester elke oomblik – die tyd gaan so gou verby.

Klippie ·

Stenig my maar maar NIEMAND kan 30 WEKE PREMATUUR gebore wees nie.. Hulle is seker OP 30 weke gebore .. HULLE Is egter pragtig .. baie bly alles het goed uitgedraai vir julle . mooiste spannetjie. Geniet hulle dis ‘n voorreg.

Landi Slatter ·

Dagsê Klippie

Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die verwarring, ons het die bewoording verander om enige verwarring te voorkom.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Frina ·

Ek is n geseende ouma van 2ling seuntjies. Hulle is op 24 weke gebore – 4 mnde in NICU voordat hulle huistoe kon gaan. Albei twee gesonde normale seuntjies en was in Okt 3jr oud. Alle eer aan God.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.