Vierling ʼn verrassing vir parapleeg-ma van Jhb

Chantel en Robert Emery. Foto: Facebook

Chantel en Robert Emery. Foto: Facebook

ʼn Vrou van Johannesburg wat ʼn parapleeg is, het Sondag die lewe aan ʼn vierling geskenk.

Die vierde baba was boonop vir Chantel Emery (34) en haar man Robert (37) ʼn groot verrassing aangesien die egpaar ʼn drieling verwag het. “Ons is nogal uit die veld geslaan. Ons het dit glad nie verwag nie,” het Robert Maandag aan Maroela Media gesê.

Volgens Robert was sy vrou tuis met hul eersteling, ʼn dogtertjie wat binnekort drie jaar oud word, toe die babas besluit het om hul opwagting te maak. Die babas moes eers op 22 September gebore gewees het. Daar was egter nie tyd om hospitaal toe te jaag nie en drie babaseuntjies is sommer by die huis gebore.

Chantel is daarna na die hospitaal geneem waar, tot die egpaar se verbasing, ʼn vierde babaseuntjie gebore is. “Een van die verpleegsters het vir ons verduidelik dat die baba waarskynlik baie hoog in die baarmoeder gelê het en daarom nie op die skanderings gesien kon word nie.

“Ons het 4D-skanderings en alles laat doen en niemand het ooit die vierde baba gesien nie. Maar Chantel het gedurende die swangerskap gesê dit voel of iets bo in haar maag druk en sy was ongemaklik,” het Robert gesê.

Dit gaan goed met die moeder en die babas, hoewel die pienkvoetjies nog ʼn ruk in die hospitaal sal moet bly omdat hulle so vroeg gebore is.

Dit was Chantel se tweede swangerskap en hul eerste kind is in 2012 gebore. Sy is sedert 2008 ʼn parapleeg nadat sy in ʼn motorongeluk was.

Die Emery-egpaar het nog nie op name vir die nuutste lede van hul gesin besluit nie. “Die vierde baba was ʼn groot verrassing, maar ons het ʼn wonderlike ondersteuningsstelsel om ons by te staan. Ons sal regkom,” het hy gesê.

Robert het ook nog ʼn seun en twee dogters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gert ·

‘n Grooter geskenk van God kan mens nie kry nie!! Dit moet ‘n wonderlike gevoel wees!!!!!

Eliza-beth ·

Wat ‘n mooi, vierdubbele geskenk! Ek hoop die handvol bring julle eindelose plesier!

Vriend van die Emerys ·

Hi Francouis,

Die ouer paar is baie goeie vriende van my en hulle het regtig nie geweet nie! Ons het letterlik omtrent daagliks die afgelope ruk gepraat van die drieling. Hulle het onglangs 2 x 4D scans gehad en net die drieling is opgetel.

Glo my, hulle is absolute wonderlike mense en ‘n familie wat definitief nie die sensasie tipe is nie.

Die vierling is waarlik ‘n groot seen en wonderwerk!

Susan ·

Moet julle nie steur aan die man nie hy kan heel duidelik nie lees nie.

simone venter ·

Chantel en Robert,

Mag elkeen van hierdie piepklein seuntjies julle die grootste vreugde bring. Julle gaan ‘n lekker groot gesin wees wat baie dinge sal saam geniet in die lewe! En ek is seker hulle ousus gaan nou lekker pop speel saam met mamma! Baie geluk!

neelsie ·

Sterkte vir die gesin.
Dit kos wysheid om soveel kinders goed groot te maak.
Baie geluk. Bid die seen van God oor julle.

Irene ·

Baie geluk aan julle. My ma was ook verlam en ek is gebore met ‘n keisersnee op agt maande. Dit was terug in 1962. My ma was ook toe 43 jaar toe ek is gebore is. Die dokters het daardie tyd vir my ma hulle genoem dat daar glad nie kinders moet wees nie. My punt is dat die medies al sover gevorderd is.

Se maar net ·

Nee hel Susan van wie praat jy, se ons ook!!

Baie baie geluk en God se seen oor jul gesin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.