Vierpotige Ounooi bestendig ná huisbreker haar takel

Ounooi is in ‘n bestendige toestand na die aanval. (Foto: SA Polisie)

Ounooi, ʼn sesjarige Belgiese herdershond verbonde aan die polisie se K9-eenheid in Port Elizabeth, is in ʼn bestendige toestand nadat ʼn vermeende huisbreker haar Saterdag in die vroeë oggendure met ʼn skerp voorwerp gesteek het.

Kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, het gesê lede van die honde-eenheid het omstreeks 04:00 gereageer op ʼn huisbraak in Port Alfred.

“Die verdagte se spore het na die strand gelei en die hanteerder het een verdagte op die strand sien hardloop. Hy het hom gewaarsku om te stop, maar die persoon het nie gehoor gegee nie en aangehou vlug.”

Ounooi is agter die verdagte aangestuur en terwyl sy hom probeer aankeer het, het hy haar in die bors en bolyf gesteek.

“Swak weens die steekwonde, het Ounooi inmekaargesak en die verdagte het in die rigting van die water gehardloop,” het Govender gesê.

Ounooi is inderhaas na ʼn veearts geneem, waar vasgestel is dat die spiere naby haar hart onder meer beseer is.

“Sy is tans in ʼn bestendige toestand en afgeboek om haar kans te gee om te herstel.”

Die hulp van die Nasionale Seereddingsinstituut is ingeroep om na die huisbreker te help soek, maar hy is steeds op vrye voet. Die soektog duur voort.

Die polisie sê ʼn aanval op enige van sy lede is ʼn aanval op die staat – en dieselfde geld vir enige aanval op sy vierpotige lede.

“Namens jou kollegas in die groep wens ons jou ʼn spoedige herstel toe,” het brig. Morgan Govender, groepsbevelvoerder van Port Alfred, gesê.

“In haar vier jaar in die polisie het Ounooi besondere toewyding en dapperheid aan die dag gelê en ʼn beduidende rol gespeel om verskeie verdagtes te help aankeer. Haar hanteerder sal traumabehandeling ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

nella ·

Ounooi, baie geluk met jou goeie heldedaad. Jy is ñ yster en sal hierdeur kom. Baie sterkte ook aan jou hanteerder. Ons dink aan julle, die eina sal weer weggaan. Die honde engeltjies sal mooi na jou kry. Liefde, van my 2 hondekindertjies.xxx

Cherokee ·

Ounooi is op siekverlof. Mag sy bederf word. Morgan Govender, ek weet nie of jy ooit hier sal lees nie, maar wat jy sê word raak gelees. Dankie vir lojaliteit teenoor kosbare lede van die mag.

Christa ·

Diere is my passie, my Groot liefde. Sterkte aan my dierevriend, spoedige herstel.

Leza Hyman ·

Dit is vir my altyd so pragtig die honde wat diens doen in die polisie … hulle lewer altyd hul beste

Naomi ·

Sterkte aan Ounooi en haar hanteerder. Jul albei SAL hierdeur kom. Ek hoop jy sal weer jou dapper werk kan voort sit, Ounooi. Ons dra jul op in gebed.

Thea ·

Sterkte Ounooi jy is n dapper lid vd polisie hoop jy word gou beter en is terug bd werk sodat jy die skelm wetters kan uitsnuff!
@die skelm wat haar gesteek het…..lig loop sy gaan jou reuk nie vergeet nie !

Swanna ·

Pratige diere. Hulle sal hul lewe vir jou gee en baie gehooesaam en intelegent.

Werner ·

Hanteerder weet skynbaar nie hoe n pistool werk nie want as my kolega aangeval word mag ek sy lewe beskerm

Eddie ·

Behoort ‘n soort van harnas vir die honde oorweeg te word nie , hulle is te uitgelewer aan gevaar teen misdadegers !!

nannie ·

@werner het jy dalk daaraan gedink dat die hanteerder nie kon skiet nie? Dalk sy kollega kon raakskiet? en waste verwyt sou dit gewees het vir die res van sy lewe?
@ounooi word gou gesond en glo jy gaan goed bederf word met n groot skaapboud been vol vleis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.