Viervoetvriend gaan kleuter met diabetes help

Die tweejarige Jenna-Mae van der Vyver is reeds rasend van opgewondenheid om haar nuwe maat – ‘n spesiaal diabeties opgeleide hond – te ontmoet. (Foto: Cherise Brady Photography)

Klein Jenna-Mae van der Vyver is ʼn vasbyter en ʼn “besonder slim” tweejarige met ʼn deernisvolle hart.

Nie net hanteer dié meisie van Krugersdorp in Gauteng haar Tipe 1-diabetes met begrip en dapperheid nie, sy is ook altyd blymoedig ten spyte van die talle inspuitings en naaldprikke wat sy weens haar diabetes moet verduur.

Tipe 1-diabetes is nie leefstyl- of dieetverwant nie en Jenna-Mae sal vir die res van haar lewe van insulien afhanklik wees. In die aanvanklike fase ná diagnose is die lewenslustige dogtetjie se insulienvlakke egter onvoorspelbaar en onreëlmatig en dit veroorsaak slapelose nagte vir haar ouers, Cherise (38) en Johan (47).

Die vrees dat hulle op ʼn dag gaan wakker word en besef Jenna-Mae het nie die nag oorleef nie, is ʼn konstante werklikheid.

“Niks is so vreesaanjaend nie as om snags te slaap en te hoop haar suikervlak daal tot so ʼn mate dat sy in ʼn koma verval en jy nie die wekker om 02:00 en 04:00 hoor om seker te maak sy is nog reg nie,” sê Cherise.

“Of om vyf minute lank van die winkels terug te ry huis toe om dan af te kom op ʼn kind op die agtersitplek wat nie reageer nie, selfs al het jy vyf minute tevore haar insulienvlak nagegaan. Jy skud haar, jy skreeu vir haar om wakker te word en jy probeer iets suikerig in haar mond kry sonder om haar te laat verstik. Nie cool nie, mense, nie cool nie…,” sê Cherise.

Jenna-Mae saam met ma, Cherise, en pa, Johan. (Foto: Cherise Brady Photography)

Omdat haar suikervlakke hoog is, is Jenna-Mae ʼn besige jong dame en sukkel sy om te fokus, maar sy verstaan dat sy nie suiker of koolhidrate mag eet nie, omdat dit haar siek laat voel. Cherise sê wanneer haar suikervlak baie laag is, kan Jenna-Mae tranerig, moeg en klouerig wees – en sy sal haar ouers gereeld vra om haar Super C-suiglekkers te gryp om haar suikervlak te verhoog.

Jenna-Mae is nog klein en sy sukkel nog om behoorlik vir Johan en Cherise te verduidelik hoe sy voel. Hiervoor het die egpaar egter ʼn perfekte oplossing gevind: ʼn spesiaal diabeties opgeleide gidshond wat hoë of lae insulienvlakke kan bespeur tot 20 minute vroeër as wat mediese toestelle kan.

Om dié “paramediese hond” te help bekostig, het die Van der Vyvers hulle tot die Backabuddy-platform gewend en weldoeners gevra om ʼn bydrae te maak tot die hondjie se kos en mediese behoeftes oor die volgende jaar, terwyl die hond opleiding ontvang.

Weldoeners het hul harte vir Jenna-Mae oopgemaak en die R60 000-teiken wat hulle gestel het, is reeds behaal.

Nie net hanteer dié meisie van Krugersdorp in Gauteng haar Tipe 1-diabetes met begrip en dapperheid nie, sy is ook altyd blymoedig. (Foto: Cherise Brady Photography)

Die geld sal regstreeks oorbetaal word aan Honey’s Guide Dogs, ʼn niewinsgewende organisasie in Kaapstad wat dié ongelooflike metgeselhonde uitkies, oplei en by hul spesiale metgeselle plaas.

Jenna-Mae is reeds rasend van opgewondenheid om haar nuwe viervoetvriend te ontmoet wat haar nie net skool toe sal vergesel nie, maar waar ook al haar hart haar in die toekoms neem.

Cherise sê die nuwe brakkie sal “deel van die familie, deel van die span en ʼn maat vir ons klein sonskyn wees”.

“Ons weet ons is vir ʼn rede op hierdie pad. Ons weet ons het die liefde en steun van God ons Vader. Ons glo ons kan dit doen – met julle hulp,” het Cherise vroeër op die geldinsamelingsplatform geskryf.

Enige geld – benewens die R60 000-teiken – wat ingesamel word, sal gebruik word om spesiale sensors vir Jenna-Mae te koop om haar suikervlakke meer akkuraat en minder pynlik te toets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Ek sou nou regtig meer van die hond self wou lees en presies hoe dit werk.

Johann ·

Een van daai harts snaar roer stories en maak mens bewus van wat danjbaar beteken….EN DAN DIE FOTO? Askuus maar dis obvious n hoender…wat ook oppad is om die hond te “ontmoet”…tong in die kies.

Zebratjie ·

Het julle al gehoor van Libre sensor? Die 2 weeklikse glucose meter wat elke 5 minute n lesing neem en kommunikeer met hou smartphone. Baie maklik en sonder pyn op jou arm geplak word? Geen pynvolle vinger prikke nie. Die no 2 generasie werk met blue tooth en die monitor laat jou weet met n alarm as jou glucose vlakke daal of styg oor n sekere vlak. Baie beter tegnologie as n hond en jy kan jou kind se vlakke remote access. Kos minder as n hond wat jy moet voer en ook verseker. Dexcom is n ander brand. Kan nie sien hoe dit nie beter opsie is nie of ingevoer kan word as dit nie beskikbaar is nie.

LIEZL ·

Libre sensor is vir grootmense en kinders van 4jaar en op. Ek het dit gedra, verg baie dissipline en dit meet nie self jou vlakke nie en waarsku jou nie teen glukose daal of styg nie. Jy moet die App elke keer oopmaak en dan kan jy jou foon teen dit hou om elke keer te toets. Dit sou super cool gewees het, as jy ‘n ‘alarm’ het wat afgaan met die daal en styging. Dit kos maar ook ‘n pennie en ‘n half…ongeveer R1400.00 per maand. As die hond opsie gaan werk, sal dit fantasties wees, diere voel baie kere goed aan. Ek sou eerder dit dan gekies het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.