Vies Botswana wil duisende olifante Duitsland toe pos

Olifante kom drink water naby die Nxaraga-nedersetting aan die buitewyke van Maun in Botswana. (Argieffoto: Monirul Bhuiyan/AFP)

Botswana se president dreig om 20 000 olifante Duitsland toe te stuur in ʼn dispuut tussen die lande oor die invoer van jagtrofeë.

Duitsers moet “saam met die diere leef, op die manier wat julle ons voorsê om te doen”, het pres. Mokgweetsi Masisi aan die Duitse koerant Bild gesê.

“Dít is nie ʼn grap nie,” sê Masisi.

Botswana se olifantbevolking het die afgelope paar jaar tot 130 000 toegeneem. Die land het reeds 8 000 olifante aan Angola en 500 aan Mosambiek aangebied, terwyl hy probeer bestuur wat Masisi as “oorbevolking” bestempel.

“Ons wil graag so ʼn geskenk aan Duitsland gee,” sê Masisi wat volgens hom ook nie “nee vir ʼn antwoord gaan vat nie”.

Die Afrika-leier voer aan bewaringspogings het gelei tot ʼn ontploffing in die getal olifante en dat jag ʼn belangrike manier is om getalle te beheer. Die groot troppe olifante veroorsaak skade aan eiendom, vreet gewasse op en vertrap mense, het hy aan die koerant gesê.

Duitsland se departement van omgewingsake het vroeër vanjaar die moontlikheid geopper om weens kommer oor stropery, strenger beperkings op die invoer van jagtrofeë te plaas.

ʼn Verbod op die invoer van jagtrofeë sal Botswana-burgers verarm, voer Masisi aan.

Botswana het trofeejag in 2014 verbied, maar die beperkings in 2019 weens druk van plaaslike gemeenskappe opgehef. Die land reik nou jaarlikse jagkwotas uit.

ʼn Woordvoerder vir die Duitse departement in Berlyn sê Botswana het geen kommer oor die kwessie met Duitsland geopper nie. Die departement is egter steeds gewikkel in gesprekke met Afrikalande wat deur die invoerregulasies geraak word – ook Botswana – het die woordvoerder gesê.

“In die lig van die kommerwekkende verlies aan biologiese diversiteit, het ons ʼn spesiale verantwoordelikheid om alles te doen om te verseker die invoer van jagtrofeë is volhoubaar en wettig,” het sy gesê.

Duitsland is een van die grootste invoerders van jagtrofeë in die Europese Unie (EU).

Jagtrofeë van Afrika-olifante vereis reeds toestemming onder bestaande reëls, sê die woordvoerder.

Besprekings met die EU oor strenger invoerbeperkings wentel om die uitbreiding van die lys van bedreigde spesies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Hulle aanwas is waarskynlik meer as 20k per jaar, stuur dit na Duitsland, dan sien ons. Na 5 jaar het hulle meer as 130k…

Marous ·

Stuur sommer 10 000 na die modder eiland koningryk toe ook .

Frank ·

Ai tog, ek’t tog SO ‘n vrugbare verbeelding….. Lol
Hulle sal hulle Autobahn spoedbeheer moet aanpas

Rudolph ·

Dit is nie die olifante wat oorbevolk is nie. Veeboerdery het die het die olifante se habitat gevat, veeboerdery is die grootste oorsaak van habitat vernietiging, en spesie uitwissing. Die wêreld kan sonder diereprodukte klaarkom

Olive ·

Dalk moet julle kyk na julle bevolking se groei ontploffing wat die spasie van alle plant en dier oorneem.

Bostoe ·

@Rudolph, hoe goed ken jy Botswana? Wanneer laas was jy op die Chobe rivier se oewer om te sien hoe daardie oewerbis verniel is? Jy kannie slegs een spesie beskerm ten koste van ‘n hele ekosisteem nie.
@Olive, Botswana het maar ‘n bevolking van 2,6 miloen mense. Kry jou feite reg voor jy aannames maak.
Dis maklik om hier gemaklik by jou huis te sit, winkel toe te ry en te lekker te eet. Baie van daai mense beoefen bestaansboerdery en een troppie olifante kan ‘n hele jaar se oes in een aand verniel.

Papsak ·

Nee alles moet uit gevoer word niks moet meer in SA wees nie hulle like dit mos so patete so het hulle SA verarm met alles ek sal nie stem vir anc nie nooit !!!!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.