Vigilante-aanvalle in Vrystaat veroordeel

Argieffoto

Die polisie in die Vrystaat het vigilante-aanvalle wat die afgelope tyd in die provinsie plaasgevind het veroordeel.

Die jongste voorval het Donderdag in die Phokong-nedersetting in Thabong plaasgevind. “Ontstoke inwoners het ʼn 31-jarige man met klippe doodgegooi nadat die man glo sy meisie verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek het,” het kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, gesê.

“Die man en sy meisie het na bewering ʼn rusie gehad, waarna die vrou gesteek is. Sy is na die Bongani-hospitaal geneem vir behandeling.” Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Dié aanval volg op ʼn voorval op 18 November naby Harrismith waar ontstoke inwoners ʼn 56-jarige vrou, wat ʼn sangoma is, lewend wou verbrand.

“Die groep het die vrou daarvan beskuldig dat sy verantwoordelik was vir die moord op ʼn sewejarige meisie. Die vrou is deur die polisie gered, wat daartoe gelei het dat twee polisievoertuie aan die brand gesteek is.”

Mbambo het gesê ʼn nadoodse ondersoek het intussen vasgestel dat die meisie verkrag is en ʼn steekwond aan haar kop gehad het. Die polisie ondersoek die meisie se moord. Niemand is nog in verband met haar moord in hegtenis geneem nie.

Nege verdagtes is ná die vigilante-aanval in hegtenis geneem op aanklagte van ontvoering, poging tot moord, brandstigting en openbare geweld. Hulle is tans in aanhouding en sal na verwagting op 27 November om borgtog aansoek doen.

Lt.genl. Lebeoana Tsumane, provinsiale polisiekommissaris van die Vrystaat, het die vigilante-aanvalle streng veroordeel. “Ons kan nie toelaat dat mense die provinsie in ʼn wettelose samelewing omskep deurdat die reg in eie hande geneem word nie,” het Tsumane gesê. “In stede daarvan dat mense die reg sy gang laat gaan, mag dié mense nou self die mag van die wet in die gesig staar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Justice ·

Moet haar net nie ONGEDEERD in ‘n kis indruk nie, dan kry julle 16 jaar tronkstraf. As julle haar lewend verbrand behoort die straf niks te wees nie , inteendeel julle gaan nie in hegtenis geneem word of vervolg word nie. Dis JUSTICE in SA. LEES MOOI, NIEMAND IS NOG IN HEGTENIS GENEEM NIE. Daar was polisie OP DIE TONEEL wat die vrou gered het maar NIEMAND Is in hegtenis geneem nie. SKOKKEND.

Leahim ·

Dit is wat gebeur as die polisie nie meer hulle werk doen nie soos ons tans ervaar en dit gaan vererger die vigilante gaan die polisie begin aanval weens hulle furstrasie

Geskiedenis ·

Vóór- en ná 1652 het daar eintlik niks verander. Die Woord van God het tog hier in Afrika wortel geskiet maar soms wonder ek oor die resultate . . . ?

marous ·

Daar is geen behoorlike regs pleging of polisiering nie . Dis die rede waarom die goed gebeur.

Apie ·

“ons kan nie toelaat dat die mense die provinsie in ‘n wettelose samelewing omskep”
Natuurlik nie, dis die regering se voorreg.

ElmaDup ·

‘n Man het my so hard oor die hek met die vuis in die gesig geslaan omdat ek hom nie wou inlaat nie dat my retina van my oog weggeskeur het. Ek is reeds blind in die ander oog. Hy het ‘n R300 boete gekry. Die polisie het vreeslik verveeld gelyk toe hulle my verklaring afgeneem het. Die polisievroue het my met agterdog beloer. Patetiese polisie. Kan mense nie kwalik neem dat hulle geen respek en agting vir die polisie het nie en reg in eie hande neem.

Van ·

Dis omdat die SAPD nie hulle werk REG kan doen in sekere omstandighede nie, dat die mense die REG in eie hande neem om te versker dat REG en ge-REG-tigheig geskied. Daardie persoon sal dit nooit weer doen nie en dis verseker!

Andre ·

Sy kon seker nie ‘n huisrower onsigbaar maak met haar dolosse en muti nie

Adri ·

Verdra asb. my onkunde. Wat beteken “vigilante”? My verklarende woordeboek (HAT) sê dit is ‘n outydse rytuig. Die engelse “vigilant” beteken versigtig of waaksaam. Dit blyk uit die konteks waarin dit hier gebruik word dat dit gewelddadig of aggressief beteken. Miskien moet ek vir my ‘n nuwer woordeboek aanskaf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.