Viljoenskroon-moord: Bloed teen mure voorspel onheil

Dave Wessels.

“Ons het vanoggend in ongeloof wakker geword. Ons woon al 15 jaar lank hier en daar het nog nooit iets gebeur nie. Jy verwag dalk dat ʼn skaap of ʼn fiets gesteel sal word, maar jy verwag nie ʼn moord nie – en veral nie so ʼn wrede moord nie.”

Só het ʼn verslae Ignaz Streicher Maandag gesê ná die moord op Dave Wessels (66) die afgelope naweek.

Wessels het ʼn gedeelte van Streicher se kleinhoewe net buite Viljoenskroon in die Vrystaat gehuur. Hy het van daar af vee verkoop en alleen gewoon.

Streicher sê hy is Sondag omstreeks 08:30 na Wessels se huis nadat ʼn werker vir ʼn spaarsleutel na ʼn stoor by Wessels se huis kom vra het. Die huise is sowat 50 m van mekaar. Streicher is self na die huis en het aanvanklik gedink Wessels het moontlik gou gery toe hy sien Wessels se bakkie staan nie op die werf nie. Hy het hom probeer bel, maar sy selfoon was afgeskakel.

By een van die spaarkamers, waar die diefwering afgebreek is, het Streicher egter werklik besef alles is nie pluis nie.

“Ek het die gordyne weggetrek en toe sien ek wat ek sien … Hy was nog toegegooi [met beddegoed]. Dit was vir my die ergste, dat hy so netjies toegemaak is. Ek het bloedspatsels teen die mure bo die bed gesien en geweet daar is groot fout,” het Streicher gesê.

Talle polisievoertuie staan by die huis waar Wessels vermoor is. (Foto: Ignnaz Streicher)

Die huis se deure was egter gesluit en nadat hy die talle bloedvlekke gesien het, het Streicher die polisie ontbied. Volgens hom het die polisie aanvanklik gesê daar is net een voertuig beskikbaar, dat hulle verskeie klagtes het om op te volg en dat hulle so gou moontlik by die toneel sal uitkom. Hy het ook die plaaslike buurtwag ontbied, wat blitsig op die toneel was en aan die polisie bevestig het dat ʼn tragedie hom waarskynlik in die huis afgespeel het. Die polisie is daarna ook na die toneel.

Hulle het Wessels se liggaam in die spaarkamer, netjies toegemaak onder die beddegoed, ontdek.

In die res van die huis was dit ook ʼn warboel. Streicher sê dit lyk of die aanvaller of aanvallers hul tyd geneem het om deur die huis na waardevolle items te soek. “Hulle het nie laat spaander nie, daar moes baie tyd gewees het. Hulle is deur elke kassie, elke laai, elke hangkas. Hulle is deur elke ding en moes ure in daai huis gewees het,” het hy gesê.

Wessels se bankkaarte is in ʼn gang gevind, maar van sy selfone en beursie was daar geen teken nie.

Wessels se liggaam word weggeneem. (Foto: Ignaz Streicher)

Wessels, ʼn voormalige weermagkolonel wat ʼn kunsbeen gehad het, se kluis het ook oopgestaan. Hy het die vorige dag vee verkoop en die vermoede bestaan dat hy kontant by hom gehad het. Hy is gewurg en met ʼn voorwerp aangerand en die wonde aan sy arms lyk of hy hom teen ʼn aanvaller probeer verweer het.

“Dave was nie die soort mens wat net sou oorgee nie. Ek kan my dit bloot nie indink nie. Hy moes ʼn groot fight opgesit het.”

Streicher sê nadat daar aanvanklik vermoed is dat die aanvallers die kluis uitgesleep het, is daar later besef dit was ʼn vrieskas. Dit blyk dat die rowers die vrieskas tot buite gesleep, die inhoud daarvan in Wessels se bakkie gelaai en die vrieskas toe weer terug in die huis geneem het.

ʼn Loper is in een van die deure, wat toegesluit was, gedruk. Die televisie het oënskynlik onaangeraak in die huis agtergebly. Streicher sê waar ʼn mens ooglopend van buite tot in die huis kon sien, het alles in orde gelyk. Dit was eers by nadere ondersoek dat die volle omvang van die plundertog in die huis sigbaar was.

Streicher sê op kringtelevisiemateriaal kan gesien word hoe iemand omstreeks 06:20 met die bakkie by die perseel uitry. Berigte dat die bakkie intussen gevind is, kon nog nie bevestig word nie en niemand is nog in verband met die moord aangekeer nie.

ʼn Vriend van Wessels versorg in hierdie stadium sy diere en sommige van sy werkers het by Streicher se huis saamgedrom, onseker oor wat nou vir hulle voorlê.

“Ek moet hulle huis toe stuur. Wat sê ek vir hulle? Jy kan niks sê nie.”

Volgens berigte het Wessels ʼn Honoris Crux-medalje vir dapperheid tydens die Bosoorlog gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Die tragiese deel is dat hy sy deel gedoen het vir die eertydse SA en nou juis aan die hand van diegene wat hy bestry het moes sterf en die weermag van toe bestaan nie eers meer!!

Trotse Boervrou

My innige simpatie aan Dave se familie.

God, sal U asb intree. Ons sal aanhou bid, vertrou en glo dat U ons uitkoms is.

Kan almal ASSEBLIEF elke dag tussen 13:00 en 14:00 bid. Dit maak nie saak waar jy is nie. Net 5 minute van jou tyd. Of jy eet, bestuur, koffie drink, dit maak nie saak nie. Dit is nie te veel gevra nie. Julle ken almal die krag van gebed. God wag, asb mense. Dit is ons enigste hulp.

Dries

As jou baas vermoor word, is jy jou werk en inkomste kwyt. Dit is die realiteit.

Grant

Van die talle voertuie sien ek net 2 polisie voertuie wat seker ure later daar aangekom het, res is waarskynlik buurtwag voertuie.

Kry die onwettige buitelanders uit en baie van die sal ophou.
Ek sal ook nie werk gee aan ‘n onwettige uitlander nie, hulle word hierheen gelok deur mense wie dit doen en nie almal kry werk nie.

Persheks Adri

Sinneloos al hierdie moorde en Cyril en Cele bly steeds stil! Weereens ‘n boodskap vir ons op die wyse waarop die oom vermoor is. Geen mens verdien dit nie!