Vindingryke vraestel toets leerders se vermoë om probleme op te los

Eduard Joynt en LT de Jager (Foto: Verskaf)

Matrikulante het vandag hulle tweede wiskunde-vraestel geskryf en hulle vermoë om probleme op te los is behoorlik getoets. Dit is veral die trigonometrie-afdeling wat leerders laat klippe kou het en moontlik daartoe kon lei dat hulle nie genoeg tyd gehad het nie.

Volgens Johan Koekemoer, hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW), was die vraestel baie oulik saamgestel. “Daar was genoeg maklike vrae om leerders te help en die vindingrykheid van vrae soos Vraag 6.3 het my baie beïndruk.”

Volgens onderwysers by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria was dit ʼn uitdagende vraestel. “Dit was nie noodwendig moeilik nie, maar die leerders is uitgedaag om te dink,” sê Elmarie van Loggenberg, adjunkhoof.

Volgens Eduard Joynt, ʼn leerder aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, was die vraestel redelik op standaard, maar daar was nie genoeg tyd om die vraestel te voltooi nie. “Ek kry gewoonlik klaar met my vraestelle, maar het nie vandag genoeg tyd gehad nie.”

Volgens LT de Jager was die vraestel billik, maar daar was probleme met die skaal van party sketse. “Die vraestel was gelukkig makliker as Vrydag s’n!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charlie ·

Ek was nooit n goeie student, nie op skool, universiteit of nagraads.
Tog het ek na baie goeie voorbereiding 85+ behaal in n drie uur vraestel waar ek die dosent na twee ure gebel het en vertel het dit was nie maklik nie maar wel n billike vraestel..
Hiervan lei ek af dat n maklike vraestel die gevolg is van baie goeie voorbereiding en die moeilikheidsgraad direk eweredig is / verband hou met die vlak van voorbereiding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.