Vingerafdruk geïdentifiseer ná inbraak by Valke-kantoor

Lt.genl. Yolisa Matakate, waarnemende hoof van die Valke, praat Vrydag met joernaliste nadat sy voor die parlementêre komitee vir polisie verskyn het. Foto: ANA

ʼn Vingerafdruk wat by die hoofkantoor van die Valke gevind is nadat daar vroeg in Julie daar ingebreek is, is geïdentifiseer.

Lt.genl. Yolisa Matakate, waarnemende hoof van die Valke, het dit Vrydag aan die parlementêre komitee vir polisie bekendgemaak. Matakate is deur die komiteelede uitgevra oor die inbraak in die eerste week van Julie by hul hoofkantoor in Silverton, Pretoria. ʼn Aantal rekenaars is tydens die inbraak gesteel.

“ʼn Vingerafdruk is geïdentifiseer, soos ons ook gesê het [toe ons ons voorlegging aan die kommissie gemaak het],” het Matakate aan joernaliste gesê. Die vingerafdruk is gevind op ʼn deur wat nie van buite oopgemaak kan word nie. Toegang kan slegs van binne die gebou verkry word.

Matakate wou nie bevestig of die vingerafdruk aan enige van die Valke-lede behoort wat in die gebou werk nie.

Sy het ook vroeër aan die komitee gesê dat daar ondersoek ingestel is na die toegangskaarte wat gebruik word om die perseel binne te kom. Volgens Matakate is die ondersoek daarna steeds aan die gang. “Soos julle weet, is daar by agt kantore ingebreek. Rekenaars en skootrekenaars van die finansiesafdeling is gesteel, maar die inligting wat gesteel is, hou nie verband met die ondersoeke nie,” het sy gesê.

Die inligting op die rekenaars hou grootliks verband met die finansiële aspekte van die departement, waaronder selfoondata oor Valke-lede en begrotings. “Ons het intussen vasgestel daar was drie inbrekers, wat balaklawas en handskoene gedra het, betrokke,” het sy gesê.

Sy het ook gesê daar is vasgestel die inbrekers het geweet daar is ʼn veiligheidskamera by die ingang. Hulle het seker gemaak dat hulle nie vir die kamera kyk nie, hoewel hulle balaklawas aangehad het. “Die manier waarop hulle in daardie omgewing beweeg het, is ʼn aanduiding dat hulle bewus was van die kamera.”

Matakate het gesê die inbrekers het toegang tot die kantoor gekry deur die heining by die spoorlyn naby die kantoor te knip. “Deur hulle voetspore te volg het ons vasgestel waar hulle die gesteelde rekenaars op die bakkie gelaai het.”

Sy het gesê omdat die voorval in die aand gebeur het, was dit moeilik om die nommerplaat op die voertuig vas te stel.

Volgens Matakate het die hoofkantoor nie genoeg veiligheidswagte nie, hoewel daar sedert verlede jaar versoeke was vir meer veiligheidswagte. “Ons is besig om daardie versoeke op te volg,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg die SAPD het die wagte verskaf wat tans by die kantoor is en baie van hulle is voormalige polisiereserviste.

Matakate het aan die komitee gesê sy dink nie dat ander inbrake by regeringskantore toevallig is nie. “Dit is nie toevallig nie. Staatsinstansies moet as ʼn geheel hierna kyk.”

In Maart is 15 rekenaars waarop sensitiewe inligting geberg was uit die kantoor van die hoofregter in Midrand gesteel. Twee mans het reeds in die hof daarvoor verskyn.

In Julie, ʼn week ná die inbraak by die Valke se kantoor, is rekenaars uit die kantoor van die streeksdirekteur van openbare vervolging gesteel en net ʼn paar weke later was daar ʼn inbraak by die kantoor van Pretoria se hoofstaatsaanklaer.

Fikile Mbalula, minister van polisie, het sedertdien gesê hy glo die inbrake is gedoen met behulp van binne-inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Juffrou ·

Ag daar sal WEER niks van kom nie. Hou ons WEER vir die gek!

Hanna ·

Maar net weer n geleentheid om belastingbetalers se geld te mors. Hier sal tog niks v kom nie. Inside job. Duh!

AWes ·

Daar werk seker honderde mense daar en hulle identifiseer 1 vinger afdruk!
Ek hoop regtig hierdie is net swak berig gewing of ons moet tussen die lyne lees dat die vinger afdruk behoort aan iemand wat nie by die Valke werk nie.

zoom zoom ·

Vinger afdruk behoort seker aan Ketsvader of Vader Jakob of klein Duimpie of dit is iemand wat daar skoonmaak want daar is niemand wat werk in daai departement.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.