Die VF Plus is van mening die burgemeester van die Lesedi-munisipaliteit, wat die dorpe Devon, Heidelberg en Vischkuil bestuur, se “onvermoë om die munisipaliteit te bestuur” het vandeesweek gelei tot miljoene rande se skade en ʼn dorp wat vir drie dae lam gelê is.
Mari Boshoff, VF Plus-raadslid in die Lesedi-munisipaliteit, het Woensdag gesê die burgemeester, Lerato Maloka, se aankondiging verlede week om elektrisiteitsvoorsiening op te skort het inwoners van die Ratanda-woonbuurt sedert Maandagoggend in opstand.
“Die betoging het tot grootskaalse skade gelei en ʼn bekende inkopiesentrum langs die R54-pad (Vaaldampad) is ook in puin gelê,” het Boshoff gesê.
“Die betogers het Dinsdag verder gegaan en op die Heidelberg-sakesentrum toegeslaan waarna buitelanders wat sake hier dryf inderhaas moes vlug. Hul besighede is geplunder en sowat 100 Indiër-sakemanne moes dringend uit die gebied verwyder word.”
Volgens Boshoff het Maloka Dinsdagaand haar besluit teruggetrek en elektrisiteit is weer aangesluit nadat die betogers haar bedanking geëis het.
“Intussen is die ekonomie van Heidelberg verlam en leerders kon eers Woensdag weer terugkeer skool toe. Hierdie oefening van die ANC-raad het weer eens liederlik gefaal en nou moet belastingbetalers opdok om infrastruktuur te herstel.”
Boshoff het gesê die VF Plus glo inwoners van Lesedi verdien ʼn burgemeester wat onverskrokke staan en die gebied bestuur sodat ekonomiese vooruitgang vir almal wat daar woon en werk ʼn werklikheid word.
Ek het ook daai gedink. Aan die een kant is ons opgewerk omdat krag so duur raak, maar dan as hulle die wanbetalers straf en dié kom in opstand, dan bars alle helle los. Wat is die oplossing? Kom ANC ek hoor graag van julle.
Ek is meegedeel dat daar weer vir die ANC gestem word omdat dit hulle is wat moet regmaak wat hulle (ANC) verbrou het. Kan jy dit glo . . . !!??
Wonder hoeveel inwoners van hierdie Ratanda woonbuurt enigsins vir water en/ of elektrisiteit betaal. Voel jammer vir die pligsgetroue en wetsgehoorsame inwoners wat wel betaal. Hoop nie hulle herstel enige van die geboue wat beskadig is nie. Wie nie wil hoor nie, moet maar voel!
Talle inwoners se water & ligte rekeninge het gestyg met derduisende rande.
Hoekom is dit altyd net sekere mense in ons samelewing wat so optree? Hulle is ontevrede en nou beskadig hulle eiendom. Hoe gaan dit nou hulle saak help? Spite your nose, spite your face. Dink bietjie mense, dink!!!