Vinnige reaksie red ma van kaping

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Vinnige reaksie van ʼn ma van drie kinders het tot gevolg gehad dat sy Vrydag ʼn kapingspoging oorleef het.

Maroela Media het Dinsdagoggend berig oor en ʼn video geplaas van verdagtes in ʼn Mercedes-sportnutsvoertuig wat die vrou, slegs bekend as Carin van Glenvista in die suide van Johannesburg, wou kaap. Sy het egter vinnig reageer, agteruit gery en só van haar aanvallers gevlug. Klik hier om die video te sien.

Die Glenvista-gemeenskappolisiëringforum (GPF) het op hul Facebook-blad geskryf vier mans was in die wit Mercedes. Hulle bevestig dat skote gevuur is, maar dat niemand seergekry het nie, en dat die kapers van die toneel gevlug het sonder om enigiets te neem.

“Die voorval het in Hantambergstraat plaasgevind. Daar word vermoed dat die mans voor die voorval ʼn voertuig in Hythelaan ook wou kaap. Die voertuig se registrasienommer kan nie op die kringtelevisiebeeldmateriaal uitgemaak word nie,” het die GPF gesê.

Die groep het ook Carin se storie op hul blad gedeel.

“Ek het rustig met my broer se voertuig huis toe gery toe ek agterkom die wit Mercedes agtervolg my. Hulle het my tot by die huis gevolg.  Terwyl ek my afstandbeheerder gesoek het, het ek ‘n harde geluid gehoor en toe ek opkyk, sien ek ʼn man wat ʼn geweer op my rig en glimlag. Ek het paniekerig geraak en dadelik gedink hy gaan my skiet, toegang tot my huis kry en my gesin vermoor. Ek weet nie wat met my gebeur het nie, maar iets het my gewaarsku dat ek so vinnig moontlik hier moet wegkom. Ek het my motor in trurat gesit en agteruit begin ry. Die man het vyf skote op my geskiet. Die koeëls het die motor getref, maar ek het nie seergekry nie.”

Carin het gesê sy wil die storie deel sodat mense kan besef hoe maklik so iets kan gebeur. “Wees asseblief paraat, dit is nie ʼn lekker ervaring om deur te maak nie.”

Glenvista val onder die Mondeor-polisiëringgebied.

Michelle Pelser, ʼn woordvoerder van Mondeor GPF, het Dinsdag aan Maroela Media gesê kapings in Gauteng het die afgelope drie weke toegeneem. Sy het mense gewaarsku om te alle tye versigtig te wees. “Veral Polo’s en Mercedesse word geteiken,” het Pelser gesê.

Maroela Media wag nog vir kommentaar van die Mondeor-polisiestasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MATILDA ·

JAMMER SY HET DIE DING NIE GESKIET OF BO OOR HOM GERY NIE TOTDAT DAAR NIE N STUKKIE LEWE OOR IS NIE. EK IS SO SIEK DAT HULLE KAN MAAK VAN HULLE WIL EN WEG KOM MET DIT.

MOOI SO DAME.

Ria Maritz ·

Carin – soos ek op die eerste berig deur Maroela geplaas gesê het, jy verdien sowaar ‘n goue medalje vir dapperheid !

Ek is bly en BAIE dankbaar jy is nog met ons in lewe om ons nogmaals uit ons gemaksone te lig, wees te alle tye paraat, observeer heeltyd. Dit gebeur enige tyd, enige plek !

Nico ·

Waar is die skakel na die video? Dis ook nie in die ander berig nie.

Susan Lombaard ·

Dagsê Nico – in die tweede paragraaf, links van die foto, is daar woorde “Klik hier om die video te sien”. As jy op dié woorde klik, sal jy die video kan kyk. Groetnis, Maroela Media

Theresa ·

Bly julle is veilig. Maar as jy agtergekom het jy word agtervolg dan ry jy NIE nogsteeds huis toe en stop en soek jou kontrole nie. Ag nee man…………..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.