Vinpro ‘teleurgesteld’ ná bloedneus in hof

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Vinpro is “uiters teleurgesteld” nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof sy aansoek om die grondwetlikheid en wettigheid van die landwye drankverbod tydens die Covid-19-pandemie te betwis, van die hand gewys het.

’n Volbank regters het eindelik beslis dat ’n landwye drankverbod redelikerwys nodig was om die las op die gesondheidstelsel te verlig te midde van ’n opbloei in koronavirusgevalle.

Niks verhoed dus nou die regering om tydens die ramptoestand nóg ’n landwye verbod op alkohol in te stel sou dit volgens hom vorentoe nodig wees nie.

Vinpro het in sy aansoek – wat in Augustus aangehoor is – onder meer aangevoer dat die provinsiale regerings uitsluitlik wetgewende magte het om regulasies rakende drankverkope uit te vaardig, en dat die nasionale regering dus nie ʼn algemene besluit hieroor kon neem nie.

Vinpro het dié argument gebring in ’n poging om die Wes-Kaapse premier toe te laat om van die rampbestuurregulasies af te wyk en drankverkope in dié provinsie toe te laat.

Die hof was egter nie hiervoor te vinde nie en het beslis dat die regering by magte is om regulasies rakende drankverkope uit te vaardig as deel van die rampbestuur.

Die hof het ook nie Vinpro – wat byna 2 600 Suid-Afrikaanse wynprodusente, kelders en ander betrokkenes in die bedryf verteenwoordig – toegelaat om sy aansoek te wysig of nuwe getuienis aangaande die derde golf voor die hof te bring nie.

Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, het sy ontevredenheid met die uitspraak te kenne gegee. Volgens hom het die hof “agteroor gebuig” om die regering te akkommodeer en versuim om duidelikheid te verskaf oor sommige van die kwessies wat deur Vinpro geopper is. Dit sluit in die regering se benadering tot die hantering van inperkings.

Basson hou vol die regering se breë benadering tot die verbod, sy onwilligheid om te konsulteer en gebrek aan deursigtigheid oor die empiriese data wat in besluitneming gebruik word, “het onomkeerbare skade aan die wyn- en toerismebedryf aangerig”.

“Die bedryf het nie net meer as R10 miljard aan verkoopsinkomste verloor nie, maar het ook aansienlike werkverliese gely en sy internasionale aansien het skade gely. Die enigste manier vir wynverwante ondernemings om te herstel en te herbou, is deur ’n bemagtigende omgewing vir volhoubare groei te skep. Dit sluit regeringsbeleide in wat op deeglike en deursigtige empiriese data gegrond is en konsekwent geïmplementeer en streng toegepas word.”

Basson sê Vinpro oorweeg om aansoek om verlof tot appèl in te dien hoewel hy advies ontvang het dat ’n appèl, indien verlof toegestaan word, nie veel sal bereik nie. Dit is omdat die appèl na alle waarskynlikheid slegs in die tweede helfte van 2022 aangehoor sal word.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, het intussen die uitspraak verwelkom en gesê die regering sal alles in sy vermoë doen om Suid-Afrikaners se lewens én lewensbestaan te midde van die Covid-19-pandemie te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Oros Soros ·

Die rampbestuurswet is ongrondwetlik. Niemand het die bevelsraad verkies om die werk van die parlement oor te neem nie. Die grondwet is duidelik oor noodtoestande. Dit is betreurenswaardig dat die regbank kat-en-muis speel en nie hul mandaat vervul nie. Waarvoor is hulle bang? Dat die ANC hul gaan beskuldig dat hulle die land dmv. regspraak wil regeer? Dit is tyd dat die verkose leiers van die land hul grondwetlike funksie teruggegee word, sodat die pandemie volgens grondwetlike norme hanteer kan word.

Marius ·

Nog ‘n leë belofte van die regering. Hul het nog nooit ‘n duit vir die besighede omgegee nie. Dis nie net die wynbedryf wat geld verloor nie. Die regering verloor miljoene rande aan btw en ander heffings wat nie op die verkope van wyn gehef word nie. Dis ‘n goeie voorbeeld van hoe om jouself in die voet te skiet.

Pieter ·

Wat het vinpro gedink ou kop doek het voor die tyd vir die regter gese hoe dit gaan werk.

Swerwer ·

Nogal gedink dat dit nie toegestaan gaan word nie want hier word alles mos gena-aap om in tel te probeer bly. Met Frankryk wat al die Clubs toegemaak het, volg ons s’n seker binnekort en dan die strande………………………..

Anoniem ·

Die uitspraak gee aan kopdoek baie mag om te doen wat sy wil…..

Wielspore ·

Drank misbruik veroorsaak meer skade aan die mensdom as die impak op Covid, die lys is lank, motor ongelukke, geweld teenoor mense, kinder verwaarlosing, swak besluite, swak diensbywoning, slegte gesondheid en moord. Dit is alles ernstige sosiale probleme wat ‘n groot impak op onskuldige mense het. Voordat al die sosiale drinkers op die wa spring en nie saamstem, lees weer die eerste sin van my kommentaar, “drank misbruik” .

Shakespeare ·

Wielspore jy het duidelik ontspoor. Wat van drank smokkelaars, werkloosheid , hongersnood, enorme ekonomiese skade en wetsgehoorsame besighede en boere wat bankrot speel???? etc etc.

Papsak ·

Wie is diebevelsraad niemand weet nie hoekom nie en ja hierdie hele gemors is onwettig maar tog flip hulle net voort met alles die lockdown die inperkings maskers ens alkes is onwettig klomp onooslike goed

Luxrider ·

Wat het Vinpro gedink. Met ‘n oorgrootste ANC gesinde regsbank wat ANC beleide “rubber stamp” is daar nie ‘n kans op on onafhanklike uitspraak nie.

Ons het dit nou al male sonder tal gesien, selfs in die Konstitusionele hof

Shakespeare ·

….en wie is die sogenaamde “volbank regters” wat DUIDELIK nie die negatiewe ekonomiese skade aan die land verstaan nie ? Ek het ‘n woord vir die wat dit goedgekeur het maar ek mag dit nie sê nie.

Papsak ·

Wil net se almal mis bruik nie drank nie kyk wat julle se baie mense kan hulle drank hanteer ek weet nie wat is hulle so behep met drank nie

SSH ·

Volg maar net die geld…nie net waarheen dit gaan nie, maar ook waar dit vandaan kom – sal ‘n mens dan tot ‘n slotsom kon kom wat wêreldwyd aan’t gebeur is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.