Vinpro Woensdag in hof om wynbedryf van ‘verwoesting’ te red

(Foto: Vinpro/Facebook)

Vinpro is Woensdag weer in die Wes-Kaapse hooggeregshof om wat hy noem die “verwoesting” van die wynbedryf te probeer stuit. Die organisasie vra die hof vir ʼn tussentydse bevel om die verbod op wynverkope in die Wes-Kaap op te skort.

Die hernieude en algehele verbod op die verkoop van drank geld al byna vier weke lank en ʼn aankondiging oor die verlenging of moontlike verslapping van regulasies sal na verwagting die naweek gedoen word.

Vinpro, wat byna 2 600 Suid-Afrikaanse wynprodusente, kelders en ander betrokkenes in die bedryf, verteenwoordig, sê die Suid-Afrikaanse wynbedryf is op die rand van ʼn afgrond nadat sy inkomstebron oor die afgelope 16 maande herhaaldelik gestuit is.

“Baie wettige, belastingbetalende wyn- en toerisme-ondernemings, veral kleiner maatskappye wat hul deel doen om die ekonomie aan die gang te hou, sal moontlik moet sluit. Dit kan veroorsaak dat duisende werkers sal sukkel om hul gesinne te voed,” sê Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro.

“Dít terwyl onwettige handel floreer en die plundering van verskeie drankhandelaars en verspreiders verlede week alles net verder vererger.”

Meer as 230 drankpersele is verlede week tydens die oproer in Gauteng en KwaZulu-Natal geteiken. Die Suid-Afrikaanse drankhandelsnaamvereniging sê drankwinkels het ook veral in die eerste 14 dae van die hernieude verbod kwaai deurgeloop. Nadat ʼn verlenging van die verbod boonop op 11 Julie aangekondig is, het die aanvalle verskerp.

Vinpro sê dringende ingryping is nodig om ʼn sektor te herbou wat reeds op sy knieë is weens besluite wat nie op empiriese data gegrond is nie. Dié ingrypings kan ʼn verantwoordelike heropening van die wettige handel in wyn behels, asook ʼn risiko-aangepaste benadering wat ʼn onderskeid tussen provinsies tref.

Die organisasie sê wet en orde moet heers wat betref die misbruik van drank, onwettige handel en die afdwing van regulasies. Daar moet ook finansiële en tasbare steun van die regering wees om die sektor te help herbou.

Basson sê ʼn voortgesette gebrek aan beraadslaging en hulp van die nasionale regering beteken egter dat die organisasie nou regstappe moet doen – as ʼn laaste uitweg – om handel te heropen en die verdere sluiting van ondernemings en werksverliese te probeer stuit.

Vinpro se tussentydse aansoek word na verwagting later vandag aangehoor.

“Dit sal die Wes-Kaapse premier die mag gee om af te wyk van die nasionale verbod om die verkoop van drank vir gebruik op persele en tuisverbruik in die provinsie moontlik te maak,” sê Basson.

“Indien die aansoek slaag, sal Vinpro die hof nader vir soortgelyke verligting in ander provinsies.”

Vinpro se hoofaansoek word volgende maand aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Baardman ·

Persoonlik dink ek dis n mors van geld want die regering gaan net die hofsaak uitrek tot HULLE besluit die verbod word opgehef. Dis presies wat zuma ook doen.

Jolanda ·

Ek vermoed ook so. Kom ons hoop egter dat hulle vordering kan maak vandag. Vergeet dat dit wyn is. Dit gaan immers oor besighede wat nie bedryf kan word nie – ‘n fundamentele reg wat weggeneem word deur die regering net omdat hulle kan.

VaalDonkie ·

In plaas daarvan dat hulle hierdie seg jy mag by restaurante suip, maar nie by die huis nie, maak dit so dat jy net by die huis mag suip en nie drank by ‘n restaurant of kroeg mag koop nie. (nee ek dink nie dis regverdig nie, maar lees verder).

Hulle seg mos dis oordat dronk mense mekaar aansteek en ongelukke maak as hulle bestuur. Maar as jy net by die bottelstoor kan drank koop en dit by die huis drink, dan gaan jy mos nie vreemdelinge aansteek of in die hospitaal beland nie?

Of gaan dit eintlik oor iets anders?

Filistyn ·

Ek hoop hulle slaag. Grendeltyd word gewysig Maandag, en glo ek hulle sal weer kan handel dryf. Maar vir toekomstige grendel dae hoop ek hulle is suksesvol . Daar is defnitief die een of ander agenda agter die gedurige sluiting van drank.

Riaan ·

Ek besef dit klink of ek ongevoelig staan teenoor die situasie, maar ek dink dit is julle en ander rolspelers soos SAB se eie skuld. Julle moes die saak in die hof beveg het vanaf die heel eerste 21 dae lockdown.

Vandag is daar nogsteeds geen bewyse dat die rokers die hospitaal sale vol lê en al die ventilators opeis nie, maar tog was sigarette vir maande lank as onwettige middel een bestempel. En dit is presies dieselfde met drank.

Die verskil is egter julle volg nie die pad wat deur die howe beweeg nie, julle tree in gesprek met ‘n paar hoog geplaastes en glo dat dit genoeg sal wees om ‘n drankverbod te keer.
Doen julle self nou vir eens en altyd ‘n guns en vat die regering hof toe TOT DIE EINDE TOE, want ons almal weet die drank + covid redenasie van die regering is feitlik gebrekkig, en dan praat ek nie eers van die ekonomiese inpak nie.

Sakkie ·

Verbot dra geen waarde. Ek koop op swartmark alles wat ek wil hê.
Die verskil is net die prys…… Jy betaal basies dubble die gewone prys.
Maar as jy wil drink, moet jy maar die prys betaal.
En die STAAT verloor hul belasting……

Francois Le Cochon ·

in die meeste gevalle is dit nie die drinker wat die prys betaal nie, maar die vrou en kinders!!

DIABLO ·

Kom Sondag dan sit onse president weer vroom en sê: “My fellow south Africans, liquor ban will be lifted effectively Monday”. Ons almal weet Vinpro en alle plekke wat met drank handel dryf is in hulle maai alreeds. So Vinpro gaan in die hof wees, onkostes aangaan terwyl drank verkope dan weer fluks aan die gang is. My punt? Die regering foeter net als op. Ek sê weer, geen verbod kan onnoselheid hokslaan nie. Dit het die plunderaars reeds bewys midde in n drank verbod. Ons arme wetsgehoorsame burgers word beroof. En die boewe is nou al so cheeky, dat hulle mooi vir jou uitspel wat hulle soek en drank is elke keer deel van die lys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.