Vioolsdrift-man bly agter tralies ná dodelike skietery

(Foto: Verskaf deur Nasionale Vervolgingsgesag)

Jacobus (Japie) Dawid Claassens (59) het Dinsdag vir die tweede keer in die Springbok-distrikshof verskyn ná hy glo twee mans by sy huis op ʼn kleinhoewe in die Vioolsdrift-omgewing geskiet het.

Maroela Media het vroeër berig die twee mans, tussen 54 en 56 jaar oud, het verlede Woensdag weens skietwonde in ʼn Upingtonse hospitaal beswyk.

Maroela Media het verneem een van hulle was glo ʼn prokureur van Knysna en die ander glo ʼn proteaboer van Kaapstad.

Claassens, wat na bewering saam met die twee slagoffers en twee ander gaste tydens die voorval op die kleinhoewe was, het hom intussen aan die polisie oorgegee. Hy is glo ook die eienaar van die hoewe.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap, sê toe die polisie by Claassens se huis aankom, het hulle twee slagoffers in ʼn bedenklike toestand aangetref. Hulle is daarna Springbok toe gehaas vir mediese behandeling.

“Een van die slagoffers is glo geskiet terwyl hy geslaap het,” sê Senokoatsane.

“Die beskuldigde is in hegtenis geneem en aanvanklik van twee aanklagte van poging tot moord aangekla. Die slagoffers is egter intussen weens hul skietwonde dood, waarna die aanklagte na twee aanklagte van moord verander is.”

Dit is in hierdie stadium nog onduidelik wat tot die skietery aanleiding gegee het. Die mans was na verneem word vriende.

Die beskuldigde het Dinsdag in die Springbok-distrikshof verskyn waarna die saak tot 15 November vir moontlike borgtogaansoek uitgestel is.

“Die aanklaer sal hierdie borgtogaansoek teenstaan, terwyl die beskuldigde tot sy volgende hofverskyning in aanhouding bly,” sê Senokoatsane.

“Die polisieondersoek duur voort.”

(Foto: Verskaf deur Nasionale Vervolgingsgesag)c

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.