Soorte resepte:

Vir dié drankies dok SA die meeste op

Volgens Statistieke Suid-Afrika bestee Suid-Afrikaners gemiddeld 35,6% van hul drankbegroting aan bier. (Foto: Pixabay)

Suid-Afrikaners geniet ʼn gesellige kuier, of dit nou oor ʼn koppie koffie, ʼn koeldrank of ietsie sterker is. Maar daar is een gunsteling waarop verbruikers meer geld bestee as enige ander vloeibare verversing – en dit is bier.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) bestee Suid-Afrikaners gemiddeld 35,6% van hul drankbegroting aan bier. Dit is verreweg die meeste, byna drie keer soveel soos gaskoeldrank wat in die tweede plek is met 13,3% van verbruikers se drankbesteding.

Aansienlik minder geld word aan koffie en tee bestee met albei wat 5,6% van drankbesteding verteenwoordig.

Wanneer dit by hardehout kom, dok whisky-drinkers blykbaar die meeste op. Altesaam 6,5% van Suid-Afrikaners se drankbesteding word aan whisky bestee. Sowat 3,9% van die besteding gaan aan brandewyn, 2,4% aan wodka en 1,2% aan likeur.

Dit is geen verrassing dat wyn ook ʼn gewilde drankie in die glase is nie. Verbruikers bestee sowat 7,2% van hul drankbegroting aan wyn – 3,9% aan rooiwyn en 3,2% aan witwyn. Wat wel dalk ʼn verrassing kan wees, is dat wyn in die Wes-Kaap die duurste is, ondanks die feit dat die meeste wyn in dié provinsie verbou word.

Volgens SSA betaal Wes-Kapenaars gemiddeld R88,50 vir ʼn bottel 750 ml rooiwyn, teenoor die nasionale gemiddeld van R64,83 per bottel. In die Wes-Kaap kos ʼn bottel witwyn gemiddeld R70,44, terwyl die nasionale gemiddeld R55,49 per bottel is.

Die prys van heel- en gemaalde koffiebone het met 2,8% gestyg tussen April 2018 en April 2019, terwyl kitskoffie 0,3% mínder kos as ʼn jaar gelede. (Foto: Pixabay)

So waar is dit die goedkoopste om wyn te drink? As jy witwyn verkies, moet jy dalk ʼn draai in die Vrystaat gaan maak waar ʼn bottel gemiddeld R44,87 kos. Vir rooiwynliefhebbers is Limpopo die plek om te wees aangesien verbruikers daar gemiddeld R50,77 per bottel betaal.

Hoewel die prys van wyn oor die afgelope 12 maande soos die meeste ander drank- en voedselpryse gestyg het, kan wyndrinkers hulle daaraan troos dat gaskoeldrank en rooibostee se pryse aansienlik meer die hoogte in geskiet het. Rooibostee het in April vanjaar gemiddeld 17,9% meer gekos as in April verlede jaar, terwyl die prys van botteltjies gaskoeldrank met 12,4% gestyg het.

Witwyn kos 9% duurder as ʼn jaar gelede en rooiwyn se prys het met 8,6% gestyg. Verbruikers dok 7,8% meer op vir brandewyn, 7,3% meer vir wodka en 4,8% meer vir whisky. Die prys van bier het met 4,5% gestyg.

Een ligpunt is dat jou koppie boeretroos in die oggend darem nie veel meer kos as ʼn jaar gelede nie. Die prys van heel- en gemaalde koffiebone het met 2,8% gestyg. En kitskoffie? Dit kos sommer 0,3% mínder as ʼn jaar gelede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Cherokee ·

Wyn in die Wes-Kaap die duurste ondanks die feit dat die meeste wyn daar verbou word? Kom kyk wat kos piesangs in Natal.

Antoinette ·

Verstom my telkens dat mense sal kla oor die prys van brood, melk, petrol ens. maar selde ooit oor die prys van drank en sigarette.

Chris Ws ·

Kits koffie het homself uit my “mark” uit geprys.Ons Koop lankal net suiwer gemaalde Kenna koffie en Kenna koffie sakkies.Die koffie sakkies het die plek ingeneem van die kitskoffie in ons huishouding en werk BAIE goedkoper uit en smaak tonne beter ook.Kitskoffie pryse sal drasties moet daal om ons weer terug te wen maar dit gaan nie maklik gebeur nie.

Gert van Wierdapark ·

Kan sien dat Bier die gewildste is met al daai biermae wat ten toon gestel word! He-he-he!!!

Wyntjie ·

My skoonpa het vroeër jare gesê:”Al kos ‘n bottel brandewyn R10, sal hy hom nog altyd koop!!” Die lewe is darem te droog!….

Carl ·

Die wyn is nie duurder in die Wes Kaap nie die verbuiker daar soek bloot die beter kwaliteit produk. Hulle is meer ingelig oor kwaliteit.

Wynsnobs ·

Die wyn in die Wes-Kaap is duurder agv van modegiere. Ek woon aan die “verkeerde” kant van die Hugenote tonnel en die wyn is baie goedkoper by ons as in Paarl, Franschoek en Stellies. Gelukkig het al die ryk mense aan daardie kant nog nie agtergekom dat dit net so mooi (indien nie mooier is) hier, en dat die wyn net so lekker maar baie goedkoper is hier nie. Moet hulle nie vertel nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.