Vir eers geen afleggings by SAUK

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die SAUK het Donderdag gesê hy sal nie artikel 189-kennisgewing hernu oor beplande afleggings nie, maar eers ʼn omvattende vaardigheidsoudit doen.

Ná grootskaalse kritiek op ʼn aankondiging in 2018 dat die openbare uitsaaier van sy personeellede wil aflê, het die SAUK besluit om eers die artikel 189-kennisgewing terug te hou, wat ʼn konsultasiegesprek tussen die organisasie en vakbonde behels.

Die kennisgewing het Donderdag verstryk en die uitsaaier het in ʼn verklaring gesê sy besluit, om nie die kennisgewing te hernu nie, volg ná gesprekke met belanghebbendes, insluitend LP’s, vakbonde en personeel.

“Al die belanghebbendes het bevestig dat daar ʼn behoefte is om verhoogde koste te hersien, en daarom moet ʼn omvattende vaardigheidsoudit eers gedoen word.”

Die SAUK het gesê die uitslag van die oudit sal ʼn duidelike uiteensetting bied van die omvang van beheer, behoorlike bestuursvlakke en gepaste vaardighede en bekwaamheid om ʼn rol te vervul. “Dit sal verseker dat die SAUK aan sy strategiese doelwit kan voldoen om optimaal en mededingend in ʼn gedigitaliseerde omgewing bedryf te word.”

Bongumusa Makhathini, voorsitter van die SAUK-raad, het in November aan LP’s gesê as hulle nie ʼn kontantinspuiting van R3 miljard ontvang nie, sal hulle ʼn “dag zero” bereik waar die uitsaaier “feitlik bankrot” sal wees teen Maart vanjaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie ·

Ek kan nie minder omgee nie. Hoop die olifant val om! Die enigste rede hoekom die afleggings gestop is, is die verkiesing wat nou vinnig nader kom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.