Virtuele lewe in Hugenote-museum geblaas

Die Hugenote-gedenkmuseum op Franschhoek kan nou virtueel besoek word. (Foto: The Huguenot Memorial Museum)

Michelle Milnes (nee Cillié), die Suid-Afrikaanse entrepreneur en eienaar van die multi-bekroonde internasionale maatskappy Property Studios, het nuwe lewe in die Hugenote-gedenkmuseum op Franschhoek in die Kaapse Wynlande geblaas deur met moderne tegnologie ʼn virtuele toer van dié museum te skep.

Milnes, wat Property Studios agt jaar gelede in Skotland gestig het, het in die voetspore van haar Franse Protestantse oupagrootjie – wat geneeskunde studeer het aan die Universiteit van Edinburgh – van Wellington in die Wes-Kaap gevolg en in Skotland aangebly nadat sy op dié land se ryk kulturele erfenis verlief geraak het.

Property Studios is vandag ʼn leier in die eiendomstegnologiesektor in die Verenigde Koninkryk en skep fotorealistiese 3D- en virtuele toere en rekenaargegenereerde opknappings van die grootste eiendomshandelsmerke, museums en galerye in Europa, Ethiopië, Australië en Suid-Afrika.

Die ryk erfenis van Milnes se voorsate, die Franse Protestante, en die inhoud van die Hugenote-gedenkmuseum het inspirasie vir haar en haar span gebied om ʼn virtuele toer van dié museum te skep.

Dié tegnologie laat enigiemand wêreldwyd toe om die museum in 3D te besoek, om die uitstallings te besigtig en na die kurator, Tracey Randle, te luister terwyl sy oor die stukke gesels.

Michelle Milnes, stigter en eienaar van Property Studios. (Foto: Verskaf)

“Ons tegnologie pas in by die lieflike en stemmige spasie en uitstallings van die museum. Tracey se voortreflike kuratoriale versorging van objekte – stoele, Bybels, gehekelde goedere, lanterns, horlosies – laat ruimte vir ʼn verrykende en meesleurende multimedia-ontdekking van die Hugenote se wêreld,” sê Milnes.

“Dit het vir my persoonlik gevoel soos ʼn belangrike projek, maar ook een wat net betyds is in die groter konteks van geforseerde migrasie en die tol wat dit van die mensdom eis. Daar is tans 26 miljoen vlugtelinge wêreldwyd. Dit is deel van ʼn belangrike, groter debat oor verplasing en nasionale identiteit.”

Die Hugenote was Franse Protestante wat in die 17de eeu gevlug het van vervolging deur die Rooms-Katolieke Kerk. Van daardie diaspora van meer as 160 000 het slegs sowat 300 hulle in Suid-Afrika gevestig, maar het egter steeds ʼn onuitwisbare merk op die land se kultuur en genealogie gelaat.

“Hoewel die Hugenote in ʼn streng patriargale samelewing geleef het, is die rol wat vroue gespeel het baie beduidend. Dit is weer eens ʼn belangrike debat vir ons tyd,” sê Milnes.

Dr. Andrew Kok, voorsitter van die Hugenote-gedenkvereniging van Suid-Afrika, sê “die Hugenote-gedenkmuseum en die Hugenote-monument vertel ʼn verhaal van vryheid van politieke en godsdienstige onderdrukking. Die morele krag en waagmoed van die Hugenote verplaas hul storie anderkant tyd, plek, etnisiteit en godsdiens.”

Die virtuele toer kan in Afrikaans en Engels onderneem word. Die museum op Franschhoek is ook oop vir besoekers, met Covid-19-protokolle wat geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Blikkies ·

Wow, dit is nou mooi gedoen. Wonder of hulle so iets van die Parlement se ou kamers, met die geskrifte, skilderye, meubels en ryke geskiedenis kan doen voor die groot Brand van 2022…

annie ·

Mmm… Niks maar niks wat voor 1994 gebou of gedoen is, het waarde vir die Nuwe Afrika Orde nie. Hulle is down-to-earth geöriënteerd.

Rupert Ashford ·

Het so lekker gelees en dit regtig geniet totdat die 3de laaste paragrafie toe nou moes opgehaal word.

Marius ·

Dit is ‘n puik inisiatief. Nou kan meeste afrikaners toegang tot die museum verkry. Daar is egter niks wat ‘n persoonlike besoek ervaring kan troef nie.

Esme ·

Pragtig!
Dit is ‘n puik idee en op die wyse word Geskiedenis bewaar.

Enige idee wanneer die plek vernietig gaan word in ‘n ‘brand’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.