Woolworths het pas sy aangevulde en virtuele realiteit- (augmented and virtual reality) skoonheidservaring bekendgestel, wat ʼn eerste van sy soort in Suid-Afrika is.
Dié nuwe digitale ervarings, Virtual Try On en Virtual Consultations, help mense wat aanlyn inkopies doen om ʼn beter idee te kry van die produk wat hulle koop.
Virtual Try On gee verbruikers die geleentheid om honderde kleure lipstiffie, oogskadu en maskara “aan te pas” voordat hulle dit koop. Die funksie toon realistiese en gedetailleerde aanwending van die produkte wat op enige velkleur getoets kan word.
Virtual Consultation bied verbruikers die geleentheid om konsultante van Estée Lauder en Clarins te spreek op ʼn digitale platform en in die veiligheid van hul eie huise. Verbruikers sal op dié manier die geleentheid kry om in een-tot-een sessies velsorgadvies, produkaanbevelings en aanwendingstegnieke by dié konsultante te kry.
“Covid-19 het aanlyn inkopies ʼn groot hupstoot gegee. Hierdie nuwe, interaktiewe digitale platform bied kopers die geleentheid om enige tyd en enige plek ʼn verpersoonlikte ervaring te hê,” sê Liz Hollock, hoof van aanlyn verkope by Woolworths.
Albei hierdie nuwe platforms is gratis by Woolworths-aanlyn beskikbaar, en vervang die verbruikerservaring wat mense in die winkels ken, maar wat hoogs gefokus is op aanraking.
Hollock sê die ongekende groei in aanlyn inkopies die afgelope 12 maande, tesame met ekstra veiligheid- en gesondheidprotokol oor toetsing van skoonheidsprodukte in winkels, het hulle in hierdie nuwe rigting gedruk.
“Dit het lewe gegee aan hierdie nuwe geleentheid om die koopervaring in die skoonheidsafdeling te transformeer.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Moet geldeenheid nie eerder geleentheid wees nie… Proeflees, proeflees, proeflees asb. voor julle plasing doen.