Virus nié rede vir baba Mienke se terugslag

Baba Mienke (Foto: Facebook)

Baba Mienke se mees onlangse terugslag is steeds ’n raaisel nadat dokters intussen vasgestel het dat sy nié ’n virus opgedoen het nie.

Ryno Mulder, Mienke se pa, het Donderdagmiddag aan Maroela Media gesê dat toetse die moontlikheid van ’n virus uitgeskakel het nadat die ouerpaar aanvanklik oortuig daarvan was dat Mienke ’n maagvirus opgedoen het.

Hy verduidelik dat hulle van baie mense weet wat onlangs ’n maagvirus onder lede gehad het. Aangesien Mienke met diarree gesukkel het, was dit ’n moontlike verduideliking.

Maroela Media het vroeër berig dat klein Mienke Maandag in ʼn Johannesburgse hospitaal opgeneem is nadat sy erge koors gehad, gestik en stuipe gekry het.

Volgens Mulder krap dokters steeds kop en ondersoek nou talle moontlike ander oorsake, onder meer haar dieet. “Daar is sprake daarvan dat sy weens haar melk miskien te veel of te min proteïen inkry.”

Hy vertel dat Mienke baie geswel is en die afgelope ruk aansienlik baie gewig aangesit het. Mulder vertel dat die 19 maande oue dogtertjie ’n kort ruk gelede 9 kg geweeg het en nou byna 13 kg weeg.

Volgens Mulder het haar dokter verduidelik dat die proteïen in Mienke se melk moontlik in vet omgesit het. Dit is egter in dié stadium net bespiegeling en verdere toetse word gedoen.

Sy huil baie gedurende die aand en kry nog steeds stuipe, sê pa Ryno. “Ons as ouers wil net hê sy moet rustig raak en weer normaal funksioneer.”

Mulder sê klein Mienke lyk effens beter as vroeër die week en hy meen dit is gerusstellend dat sy in goeie hande is. Hy het sy lof uitgespreek vir Mienke se neuroloog wat alle moontlikhede ondersoek vir haar terugslag.

Maroela Media het vroeër berig Mienke is op 25 Augustus verlede jaar na die hospitaal gehaas nadat sy glo by ’n dagsorgsentrum in Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga aan melk verstik het. Volgens mediese personeel was sy ’n geruime tyd sonder suurstof. Sy is ná die voorval etlike weke in die hoësorgeenheid van ’n Johannesburgse hospitaal verpleeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cheryl ·

Arme ou klein dingetjie wat deur soveel moet gaan – Baie sterkte aan haar ouers. Hoop en vertrou sy word vinnig beter

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.