Virus stuit nie rekordgetal kwalifikasies vir Maties

Die US sê hy het ‘n rekordgetal kwalifikasies toegeken. (Foto: Unsplash)

Die Universiteit Stellenbosch (US) sê hy het sy eie rekord verbeter vir die meeste kwalifikasies wat tot nog toe in ʼn akademiese jaar by die instelling toegeken is.

Die universiteit het verlede jaar altesame 9 234 grade, sertifikate en diplomas toegeken – en daarmee die vorige jaar se rekord van 9 133 kwalifikasies gebreek.

“Dit is ʼn merkwaardige prestasie as ʼn mens in ag neem hoeveel uitdagings die Covid-19-pandemie ingehou het,” sê die universiteit se rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers.

Kontakonderrig is in Maart verlede jaar opgeskort in ʼn poging om infeksies te stuit en US het na sogenaamde noodafstandonderrig, -leer en -assessering (ERTLA) oorgeslaan.

Volgens De Villiers het dit beteken die US moes veel vinniger meer aanlyn en hibridiese elemente by die universiteit se leer- en onderrigaanbod insluit.

“Wat ons van plan was om oor vyf jaar te doen, moes skielik binne vyf weke afgehandel word.

“Dit was ʼn spanpoging duisend. Almal het hulle deel gedoen – van dosente wat hul kursusse moes herontwerp en studente wat aan uitsluitlike aanlyn klasbywoning en -assesserings moes gewoond raak, tot oorlaaide IKT-stelsels wat in rekordtyd opgegradeer moes word.”

Die US het meer as 1 700 skootrekenaars aangekoop wat op ʼn bruikleengrondslag aan studente beskikbaar gestel is.

“Omdat ons in ʼn streng inperking was, het ons spesiale toestemming bekom dat koerierdienste die skootrekenaars by adresse oor die hele land kon aflewer. Die universiteit het studente van data voorsien om te sorg dat hulle die internet kon gebruik en ons het ʼn toegewyde bystandswebwerf geskep om studente met verskeie aspekte van die nuwe, aanlyn leer-en-onderrigbenadering te ondersteun,” sê De Villiers.

Die US se assessering het vir die eerste keer in die universiteit se geskiedenis hoofsaaklik aanlyn geskied.

Die universiteit sê sy planne het vrugte afgewerp by die US se eerste stel gradeplegtighede vir die akademiese jaar in Desember verlede jaar en die tweede stel in Maart/April vanjaar.

Die US sê hoewel die getal kwalifikasies wat toegeken is aanvanklik effens minder was as in 2019, was dit duidelik dat sekere magister- en doktorale studente wat moes gradueer, weens die impak van Covid-19 nie hul navorsing betyds kon voltooi nie. Hulle kon byvoorbeeld nie tydens die strenger inperkingsvlakke veldnavorsing doen nie.

Om hierdie kandidate tegemoet te kom, is die sperdatum vir die indiening van hul tesisse en proefskrifte tot 1 Maart vanjaar uitgestel. Fakulteite het die navorsing laat eksamineer en het die uitslae teen 14 Mei ingedien. Verskeie eenhede van die universiteit het daarna saamgewerk om te verseker dat behoorlike oorsigbestuursprosesse gevolg word om die kandidate se uitslae te laat goedkeur – eers deur fakulteitsrade, en toe, op 25 Mei, deur die uitvoerende komitee van die senaat.

Danksy hierdie vergunning kon die US ʼn bykomende 105 magister- en 31 doktorsgrade insluit by sy finale hoëronderwysbestuursinligtingstelsel-verslag (HEMIS) vir verlede jaar aan die departement van hoër onderwys en opleiding (DHOO).

Die graduandi sal in Desember vanjaar gradeplegtighede bywoon indien omstandighede dit toelaat.

Die bykomende kwalifikasies bring die US se totale getal magister- en doktorsgrade vir 2020 se akademiese jaar op onderskeidelik 1 316 en 302 te staan.

Algehele kwalifikasies staan op 9 234. Altesaam 4 769 daarvan is op voorgraadse en 4 465 op nagraadse vlak toegeken.

“Dit is van die hoogste syfers van alle universiteite in Suid-Afrika. Ons is trots daarop om met hierdie kwalifikasies ʼn waardevolle bydrae tot die ontwikkeling van ons land, ons vasteland en die res van die wêreld te lewer,” sê De Villiers.

Die US sê ʼn belangrike deel van die hoë studentesuksessyfers was die uitgebreide steunprogram wat agter die skerms bedryf is.

Bykomende tutorbystand is aan 22 534 studente voorsien, en ʼn spesiale kort kursus is ontwikkel om tutors se vaardighede te verbeter. Volgens die tutors het die ekstra tyd saam met studente die druk op dosente verlig én beter onderrig en leer in die hand gewerk het, terwyl studente eweneens van die voordele van die bykomende steun getuig het.

Die US se Taalsentrum het meer as 1 250 vertaalde podsendings vervaardig om Engelse leermateriaal in Afrikaans om te skakel om meertaligheid te ondersteun. Die US sê die sentrum het ook webinare oor akademiese vaardighede aangebied, aanlyn lees- en skryfsteun voorsien, en intydse tolking vir dowe studente gebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

KB ·

Ek bly maar skepties teenoor die US. Hulle beeld het groot skade gekry..
Raak ontslae van julle bottel Vim, en kry ‘n nuwe potskuurder.

OW ·

Die eerste sin van die laaste paragraaf sou ook nie plaasgevind het nie,voordat daar nie eers ‘n klag oor die taalbeleid ingedien is nie.Soos daar vir ons as kinders gesê is,as jy nie wil hoor nie moet jy voel.

Jaco ·

Waar gaan hulle almal werk kry? Werkloosheid staan op amper 8 miljoen mense. Dan kom regstellende aksie en BEE ook nog by. Behalwe vir my verkeerde velkleur is ek keer op keer vir werk afgekeur met redes soos “jy is te hoog gekwalifiseer” en “jy is verkeerd gekwalifiseer”. Later het ek eenvoudig gelieg op my CV deur my 4 studiejare na 3 te verander en deur my 1 weermagjaar na 2 te verander. By studies het ek bloot geskryf “studied at university”, maar ek het niks gesê van wat ek bereik het nie. Uiteindelik, heel ironies, het dié leuens op my CV wat my dommer laat lyk, daarvoor gesorg dat ek ordentlike werk gekry het.
Maar die skade is gedoen: ek sit met reusagtige skuld uit die werklose jare waartydens ek so mooi eerlik was oor my kwalifikasies, maar aanmekaar daaroor afgekeur is.

Nuff ·

Wees maar net dankbaar dat jy enigsins werk gekry het met jou swartgallige uitkyk op die lewe. Kan net dink hoe jy almal sal moraal op n daaglikse basis aftrek tot by rock bottom.

Boon ·

Die oplossing is seker om jou eie onderneming te begin. Sterkte daarmee

Ben ·

En die meeste van die grade en diplomas se standaard is ook seker “aangepas” sodat hulle kan slaag.
Ai!!!!!!!! Waar gaan die wêreld eindig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.