Virus tref polisie ook erg

(Foto: SA Polisie)

Altesaam 336 polisielede het reeds weens Covid-19 gesterf, terwyl nog 337 in hierdie stadium in hospitale aansterk nadat hulle die virus opgedoen het.

Die departement het Donderdag gesê die adjunkminister van polisie, Cassel Mathale, het ook positief vir Covid-19 getoets en is tans in selfisolasie. Mathale is asimptomaties.

Die nasionale polisiehoof, genl. Khehla Sitole, het vandeesweek weer sy pligte opgeneem nadat Covid-19 ook vroeër by hom gediagnoseer is.

Volgens syfers van die departement van polisie het 21 294 polisielede tot dusver Covid-19 opgedoen.

Die Wes-Kaap het die hoogste infeksiekoers en 3 587 polisielede in die provinsie het die virus reeds onder lede gehad. Die provinsie word gevolg deur Gauteng met 3 436 gevalle, die Oos-Kaap met 2 968, KwaZulu-Natal met 2 632, die Vrystaat met 1 285, die Noord-Kaap met 941 en Noordwes met 856 gevalle.

Mpumalanga en Limpopo het die minste infeksies onder polisielede met onderskeidelik 724 en 595 gevalle gehad.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het al die polisielede, ook sy adjunk, spoedige beterskap toegewens.

“Ek wil ook my diepste medelye betuig met al die lede in blou wat weens die dodelike virus gesterf het. Ek hoop nie die infeksies en sterftes weerhou die res van die polisiediens om te doen wat nodig is nie. Ek is egter bemoedig dat 19 618 van ons reeds van Covid-19 herstel het,” het Cele gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.