Visrivier-ravyn: Twee vermiste SA’ners veilig

Samantha en Trevor Burger (Foto: Sam Burger, Facebook)

Twee Suid-Afrikaners wat die naweek in die Visrivier-ravyn in Namibië vermis geraak het, is opgespoor en veilig.

Nadat ’n soektog van stapel gestuur is na tien toeriste, onder wie Trevor Burger (63) en sy vrou, Samantha (50), van Franschhoek, Wes-Kaap, wat as vermis aangemeld is, is dit Maandagmiddag bevestig dat al tien toeriste veilig is.

The Namibian en Informanté berig die toeriste het nie uitgeteken toe hulle die ravyn verlaat het nie.

Theo Nghitila, die uitvoerende direkteur van die departement van omgewing, bosbou en toerisme, het bevestig die toeriste was dus tegnies nie vermis nie. Hy beskryf dit as ʼn groot misverstand en paniek is verder deur berigte aangehits.

Maroela Media het vroeër berig Namibia Wildlife Resorts (NWR) se soekspanne het sedert Sondag onverpoos na die groep toeriste gesoek ná dié groep se reis Saterdag begin het.

Die groep het ʼn noodroep uitgestuur nadat hulle die eerste kampplek bereik het. Die NWR se span het hulle na die kampplek gehaas – waar die groep toeriste aangedui het hulle is – maar hulle is nie daar gekry nie.

NWR het alle toeriste wat uit die ravyn kom, versoek om by Ai-Ais Hotsprings-oord uit te teken voordat hulle na hul onderskeie bestemmings voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.