Cheslyn Africa (30) van St Helenabaai se liggaam is in Elandsbaai in die Wes-Kaap opgespoor nadat ʼn boot Dinsdagoggend omstreeks 01:00 omgeslaan het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.
“Africa het in die water verdwyn nadat die klein vissersbootjie, met hom en twee vissers, omgeslaan het,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, gesê.
Johannes January (33), een van die vissermanne, het by ʼn polisiestasie opgedaag en gesê dat hy teruggeswem het kus toe nadat die boot sowat 100 m van die kus af omgeslaan het. “January het gesê Africa het saam met hom geswem, maar toe hy moeg word, het hy teruggedraai na die boot toe.”
Grant Snyders (35) die skipper, het op die omgeslane boot bly sit. Lambinon het gesê hy is later ook veilig aan wal gevind. “Snyders het gesê hy het intussen ook besluit om na die kus toe te swem, en het bevestig dat Africa nooit by die boot opgedaag het nie.” Snyders het ernstige ribfrakture opgedoen en is na ‘n hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Africa se liggaam is aan die forensies patologiediens oorhandig.