Visserman verdrink toe golwe hom van rotse afslaan

Argieffoto

Die NSRI het Sondag gesê ʼn visserman is dood toe hy verdrink het ná hy van die rotse afgeslaan is terwyl hy in Hermanus gehengel het.

Deon Langenhoven, stasiebevelvoerder van die NSRI by Hermanus, het gesê hul span is omstreeks 10:00 in kennis gestel van die voorval.

Die man het glo by Gearing’s Point voor die Windsor Hotel gehengel.

Die NSRI het ʼn reddingsboot en reddingswemmers uitgestuur. Die polisie en nooddienste het hulle ook na die toneel gehaas.

Die man, ʼn plaaslike visserman in sy vyftigs, is sowat 30 m van die kuslyn af aangetref en is op die boot geplaas. Hy het nie asemgehaal nie en het nie ʼn pols gehad nie.

Pulmonêre resussitasie is op die man toegepas terwyl hy na die hawe geneem is waar paramedici die reddingspoging oorgeneem het.

“Ongelukkig het alle pogings om die man by te bring misluk en hy is op die toneel dood verklaar. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek,” het Langenhoven gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.