Die soektog duur voort na ʼn man wat verdwyn het nadat hy van sy kano in die Vaaldam visgevang het.
Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is Vrydagaand ontbied om die polisie by Oranjeville te help waar ʼn visserman as vermis aangemeld is. Dirk Manten, stasiebevelvoerder van die NSRI-Vaaldam, het gesê die bemanning het egter inligting ontvang dat die man glo veilig gevind is en hulle bystand word nie meer benodig nie.
“Die bemanning is Saterdagoggend weer ontbied om die polisie by te staan. ʼn Vaartuig van die NSRI is by dieselfde plek as die vorige aand gelanseer – ʼn kampterrein waar twee groepe mans gekamp en oornag visgevang het,” het Manten gesê. “Na bewering het twee mans, wat op kano’s visgevang het, op die Vaaldam by Oranjeville verdwyn.”
Sterkte winde van tot 50 knope het Vrydagaand in die gebied gewaai.
“Terwyl die NSRI en die polisie met die soektog besig was, is daar bevestig dat een van die mans veilig teruggekeer het. Die tweede man, van Vereeniging, word steeds vermis.”
Die man se kano en sy lewensreddersbaadjie is tydens die soektog, 9 km noordwes van die kampterrein, gevind.
“Die polisie se duikeenheid het intussen die soektog oorgeneem nadat daar nie enige teken van die man was nie.”