Vissermanne ná ure in water gered

Argieffoto: NSRI

Argieffoto: NSRI

Vier vissermanne moes Sondag ure lank aan die romp van hul omgeslane boot vasklou voordat hulle uiteindelik uit die see by die Macassar-strand in Kaapstad gered is.

Vaughn Seconds, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Strandfontein-stasie, het gesê omstanders het omstreeks 10:45 alarm gemaak toe ʼn man tot by die strand geswem het om hulp te ontbied nadat ʼn vissersboot omgeslaan het.

Volgens die man, Peter Wolmarans (57), het hy en vier vriende met die boot van Gordonsbaai gevaar toe dit naby die Macassar-strand omgeslaan het. Hy moes tot by die strand swem om hulp te ontbied. Hy was heeltemal uitgeput, maar kon verduidelik dat sy vier vriende steeds in die see was.

“[Een van die omstanders] het aan die NSRI bevestig dat hy die boot kon sien waar dit ongeveer 500 m weg in die water gedryf het met vier mense wat aan die romp vasgeklou het,” het Seconds gesê.

Die NSRI se bemanningslede van Strandfontein, Simonstad en Gordonsbaai is ontplooi om te vissermanne te hulp te snel. Die provinsiale nooddienste, Kaapstad-brand-en-reddingsdienste, SAPD, polisieduikers en ʼn polisiehelikopter het ook by die reddingspoging aangesluit. Wolmarans is intussen op die strand vir skok, uitputting en hipotermie behandel.

Firebird, die boot wat omgeslaan het. Foto: NSRI

Firebird, die boot wat omgeslaan het. Foto: NSRI

ʼn Reddingshelikopter kon vinnig die omgeslane boot opspoor en ʼn reddingsduiker is vanuit die helikopter in die water laat sak om die mans by te staan. Die eerste reddingsboot was kort daarna op die toneel en die mans is in die boot gehelp en teruggeneem na die strand toe.

Al vier mans, Jacques Brits (35), Ruaan Brits, (32), Jack Meyer (35) en Nicholas Meyer (26), is vir uitputting en hipotermie behandel. Volgens Seconds was die mans se toestand nie ernstig nie, ten spyte daarvan dat hulle ongeveer drie uur lank in die water was voordat hulle gered is.

Volgens die mans was hulle besig om vis te vang toe die agterkant van die boot skielik vol water geword en die boot omgeslaan het. Die mans het gesê daar was nie tyd om op die radio om hulp te roep of hul rooi noodfakkels te gryp voordat die boot omgeslaan het nie.

“Seereddingsbote het gehelp om die omgeslane boot weer vlot te maak voordat dit na die Gordonsbaai-hawe gesleep is,” het Seconds gesê. “Die twee omstanders, Ismail Moolla en Zain Mohammed, word geloof vir hul vinnige optrede wat tot die mans se redding gelei het, asook almal wat deel gevorm het van die reddingspoging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Ek wonder of daar noodfakkels aanboord was? Al slaan die boot om kan jy in die ure wat jy aan boot vashou dit mos gaan uithaal wat seer sekerlik minder moeite is as om strand toe te swem.

GJ van Zyl ·

Daardie toerusting is gewoonlik in n houer iewers in n kompartement toegenaak en moeilik om later in die hande te kry.

M ·

Ek dink nie ek sou my reddings baadjie af gehaal het om onder die boot in te swem en vir die noodfakkels te soek nie.

Cherokee ·

Nevermind Moodla en Mohammed, julle skiet hopeloos, soos in ‘heavy’, tekort om krediet te gee aan Peter (Pieter?) Wolmarans. Hy is die een wat die ander gered het en nou komplimenteer julle soos julle aangesê word om te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.