Vissermanne uit digte mis gered

Die NSRI is na die Lambertsbaai se hawe ontbied (Foto: NSRI via Facebook)

Vier vissermanne van Lambertsbaai en twee van Paternoster in die Weskus was Vrydagmiddag etlike ure op die see in hul vissersbote vasgekeer nadat hulle weens digte mis nie hul weg na die kuslyn kon terugvind nie. Hulle is die aand deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gered.

Die NSRI in Lambertsbaai is die middag omstreeks 15:30 na Lambertsbaai se hawe ontbied ná berigte van dié vier plaaslike vissermanne wat in ʼn oop vissersbootjie op die see uitgegaan het, maar nie na die hawe kon terugvaar nie weens die digte mis wat hul sig beperk.

Avril Mocke, NSRI Lambertsbaai se stasiebevelvoerder, sê dit was onduidelik of die vissermanne noord of suid van Lambertsbaai op die see uitgevaar het.

Mocke sê hul seereddingsvaartuig, Spirit of St. Francis, is op die see uitgestuur om die vissermanne te gaan soek. ʼn Reddingsvaartuig en bemanningslede is ook gestuur om al langs die kuslyn ʼn soektog van stapel te stuur.

Die reddingspan het telefonies met die vissermanne kontak gemaak en versoek dat hulle geanker moet bly waar hulle tans is.

“Ons kon uit die ondersoek bepaal dat die vissermanne suid van Lambertsbaai kan wees. Ons het toe die soektog na die suide voortgesit,” vertel Mocke.

Mocke sê toe dit begin donker word, het hulle ʼn NSRI-reddingsvoertuig op strategiese punte langs die kuslyn gemonteer en die sirene van die reddingsvoertuig geaktiveer om te probeer vasstel of die vissermanne die sirenes kan hoor.

“Ons het al langs die kuslyn die sirene geaktiveer totdat die vissermanne telefonies met ons in verbinding gekom en bevestig het dat hulle die sirene kan hoor. Toe kon ons darem bepaal waar hulle van die hawe af op die see uitgevaar het,” vertel Mocke.

Die reddingspan kon egter nie die vissermanne deur die digte mis sien nie.

“Ons het die vissermanne gevra om hul mishoring te aktiveer en steeds geanker te bly waar hulle toe was,” sê Mocke.

Die reddingsvaartuie het die mishoring gevolg en is van die kuslyn ongeveer 7 seemyl suidwes van Lambertsbaai uitgelei. Die vissersboot is toe in die digte mis aangetref.

“Ons reddingsvaartuig het met behulp van navigasietoerusting die vissermanne se boot na die hawe begelei. Die vissersboot se buiteboordmotor het in die proses meganiese probleme opgedoen en moes met ʼn sleeptou begelei word.”

Mocke vertel ʼn groot skare mense, onder wie die vissermanne se families, het hulle by die hawe ontvang.

Intussen het die NSRI in Mykonos ook inligting ontvang van twee vissermanne in Paternoster, onderskeidelik 27 en 15 jaar oud, wat Vrydag op die see uitgegaan het en ook in die digte mis verdwaal het. Hulle is die Saterdag eers veilig na land teruggebring.

Hulle was glo van plan om in die omgewing van Robeiland te hengel, maar het glo weens die digte mis verby die eiland gevaar.

Mike Shaw, NSRI Mykonos se stasiebevelvoerder, sê dit het gelyk asof die vissermanne boonop deur die dag nie meer genoeg brandstof vir die boot gehad het nie. Hulle het die boot begin roei, maar kon nie hul weg terugvind nie weens die digte mis.

Met hul laaste telefoniese kommunikasie met hul families het hulle gesê dat hulle besig was om te roei en glo in die omgewing van Robeiland was. Die selfoonverbinding is afgesny weens die battery wat pap was, en die oproep is ook in die proses kortgeknip.

Shaw sê die familie het die NSRI ontbied nadat die twee vissermanne nie teen die middag teruggekom het nie. Die NSRI se reddingspan het die middag omstreeks 15:27 ʼn soektog tussen Paternoster en St. Helenabaai in die digte mis van stapel gestuur.

NSRI se reddingspan het Vrydag tot ongeveer middernag gesoek toe die reddingsvaartuig terug hawe toe gegaan het om weer brandstof te kry. ʼn Soektog vanuit die lug is die Saterdagoggend vanuit die lug gekoördineer nadat die mis begin lig het. Die NSRI se lugvleuel, die Wildernis-soek-en-reddingspan, die Metro EMS Control asook die EMS/AMS Skymed en die Suid-Afrikaanse Lugmag is ook op gereedheidsgrondslag geplaas.

Plaaslike vissermanne het ook gehelp met die soektog.

Telkom Maritieme Radiodienste het boodskappe na alle skepe uitgesaai om op die uitkyk te wees vir die twee vissermanne.

Shaw sê die familie het Saterdagoggend ʼn boodskap op die selfoon van die twee vissermanne ontvang. In die boodskap vertel hulle dat ʼn snoekvissersboot hulle gevind het. Hulle kon glo ook ʼn tenkwa-motorvaartuig sien wat vir die reddingspan ʼn aanduiding gegee het dat hulle moontlik in die omgewing van die skepe by die skeepsankeroord buite St. Helenabaai kon wees.

Die NSRI se reddingsvaartuig is na dié ligging gestuur en het die vissersboot met die twee vissermanne ongeveer 6 km van die oewer van St. Helenabaai gevind. Omdat die boot nie meer brandstof gehad het nie, het die reddingsvaartuig hulle met ʼn sleeptou na die hawe begelei.

Shaw vertel die twee vissermanne het glo genoeg water en kos gehad vir die aand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Hierdie berig is baie interessant. Ekself tans ‘n afgetredene het jare gelede met nmy oorlede vader op see uitgegaan. Die mis het opgekom en toegetrek en kon ons niks voor ons sien nie. Daardie jare was daar nog nie radar op die boot nie. My vader het met blote kennis van die see en die Here se bystand ons veil;ig by die hawe uitgebring!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.