Vissermanne ‘verbysterd’ toe rob hulle aanval

Luiperdrob (Foto: Pixabay)

ʼn Luilekker dag van visvang het vir drie spiesvissermanne in ʼn nagmerrie ontaard toe ʼn luiperdrob, ook bekend as ʼn seeluiperd, hulle aangeval het.

Jerome Petersen (50) van Stellenbosch, Josua Joubert (40) van Bloubergstrand en Cameron Vannithing (24) van die Strand het die dag by Miller’s Point digby Simonstad, Wes-Kaap, gaan spieshengel.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het die drie vissermanne sowat 400 m van die kus af – tussen Spaniard Rock en Caravan Reef – geswem, ʼn rif bereik en begin hengel.

Petersen het in die see geduik en na die seebodem geswem toe die luiperdrob hom oorval. Die rob het hom aan die been gebyt en gestamp.

Volgens Lambinon het Petersen na die ander twee vissermanne teruggeswem en dié drie het met alle mag na die kus probeer terugkeer.

“Die rob was erg aggressief en het die manne aanhou aanval. Die dier het hulle paddavoete afgebyt en hulle van hul spiesgewere ontwapen,” sê Lambinon.

“Die manne het ernstige bytwonde, sagteweefselbeserings, skrape en kneusplekke opgedoen.”

Volgens Lambinon het die manne byna ʼn halfuur lank verbete vir hul lewe baklei voordat hulle die kus bereik het.

“Hulle was uitgeput en heeltemal verbysterd oor wat so pas gebeur het.”

Lede van die publiek wat die voorval sien gebeur het, het alarm gemaak en NSRI Simonstad en Cape Medical Response (CMR) het na die toneel gejaag.

“Met die NSRI-lede se aankoms op die toneel was die vissermanne reeds uit die water en buite gevaar. CMR-paramedici het die manne se beserings op die toneel behandel. Die NSRI-lede het van die manne se toerusting – wat in die water gedryf het – uitgehaal.”

Volgens Lambinon is Petersen en Joubert albei Brasiliaanse jujitsu-instrukteurs. Vannithing is ʼn lewensredder verbonde aan die Stad Kaapstad. Al drie is veteraan-spiesvissermanne.

“Die manne sê hul jare lange ondervinding in die see en hul hoë fiksheidsvlakke het hulle gehelp om die aanval te oorleef.”

Lambinon sê Petersen se duikpak het hom ook van noodlottige beserings gered.

Dit is nog nie duidelik wat veroorsaak het dat die rob so aggressief was nie.

“Die owerhede van die Stad Kaapstad sal die situasie in die gebied dophou na aanleiding van hierdie voorval.”

Volgens Lambinon waarsku mariene wetenskaplikes lede van die publiek om weg te bly van seediere, en veral luiperdrobbe, omdat hulle uiters gevaarlik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Die Rob was sekerlik nie lus vir indringers in hul gebied nie.

Andre

As jy met wapens in my huis kom gaan ek jou ook probeer uit haal. Ek hoop hulle het nie die rob beseer nie.

groenboer

Sover ek kan agterkom is dit raar om hierdie tipe rob enigsins aan die Kaap te sien – hulle is grootliks Antarktiese diere. Volgens Wikipedia is aanvalle op mense ook raar, hoewel nie ongehoord nie.

Leana

Ek dink die rob was nes meeste van ons mense maar net g-vol vir alles en almal.

Truthful

Daar was sekerlik baba Robbe daar….