Vissers dringend hof toe oor seismiese opname

Kusgemeenskappe van Hondeklipbaai in die Noord-Kaap, tot anderkant Langebaan en Saldanhabaai aan die Weskus geraak. (Argieffoto)

Kwalik ʼn maand nadat inwoners aan die Wildekus ʼn suksesvolle interdik bekom het om Shell te verhoed om voort te gaan met sy soeke na olie en gas, het bestaansvissermanne hulle weer tot die hof gewend – dié keer in ʼn poging om die Weskus teen soortgelyke eksplorasie te beskerm.

In ʼn verklaring wat Vrydag teen die minister van minerale hulpbronne en energie by die Kaapstadse hooggeregshof ingedien is, gee The Green Connection amptelik sy steun aan die kleinskaalse vissermanne wat hul enigste bron van inkomste teen die verdere ontginning van olie en gas langs die kus wil beskerm.

Searcher Geodata UK, die maatskappy verantwoordelik vir die seismiese opname, het moontlik reeds met sy 2D- en 3D- seismiese opnames vir verskeie klante begin, sê Liziwe McDaid, strategiese hoof by The Green Connection. Die opnames behels verskeie sogenaamde lisensieblokke langs Suid-Afrika se Weskus en suidwestelike kusgebied.

Die hooggeregshof in Grahamstad het verlede maand ʼn stokkie voor Shell se planne gesteek om seismiese opnames daar te doen en het die olie- en gasreus verbied om met sy bedrywighede aan die seebodem voort te gaan. Die interdik het gevolg op groot openbare ontevredenheid oor die opnames. ʼn Tweede deel van dieselfde interdik moet nog aangehoor word.

“Dit is belaglik, so kort nadat Shell se aansoek aan die groot klok gehang is, dat ons ons in ʼn baie soortgelyke posisie bevind waar die regering en die olie- en gasbedryf bereid is om die inkomste van kleinskaalse vissermanne op die spel te plaas,” sê McDaid.

In hierdie geval word kusgemeenskappe van Hondeklipbaai in die Noord-Kaap, tot anderkant Langebaan en Saldanhabaai aan die Weskus geraak.

“Die blote omvang van hierdie bedrywighede is ʼn sleutelaandrywer vir The Green Connection se steun vir die saak as ʼn applikant.

“Hierdie gemeenskappe, van wie talle inheems is en vir veels te lank gemarginaliseer is, het steun van alle Suid-Afrikaners nodig om hulle te help om onnodige olie- en gasboorwerk teen te staan. Dit is nie net om hul inkomste te beskerm nie, maar ook hul manier van leef,” sê McDaid.

Die Petroleumagentskap van Suid-Afrika (Pasa) het in November verlede jaar ʼn verkenningspermit aan Searcher toegestaan ingevolge die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne. Dié wet bepaal egter dat omgewingstoestemming, volgens die bepalings van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (Nema), en soos goedgekeur deur die minister van omgewingsake, bosbou en visserye, verkry moet word.

Dit moet gedoen word voor ʼn permit uitgereik kan word vir bedrywighede om te begin.

“Gegrond op beskikbare inligting, het Searcher nie aansoek gedoen of omgewingstoestemming ingevolge Nema gekry nie. Gevolglik glo ons hy mag nie toegelaat word om met sy seismiese opnameprogram te begin nie.

“Ons glo ook dit was onregmatig om die verkenningspermit sonder die Nema-goedkeuring toe te staan en dat enige verdere bedrywighede dus ook onregmatig is,” sê McDaid.

Christian John Adams, van Steenberg’s Cove op St. Helenabaai, is ʼn kleinskaalse visserman en een van diegene wat die hofverklaring onderteken en Vrydag by die hooggeregshof oorgehandig het. “Ons is hier omdat ons wil hê die seismiese opnames wat die regering aan die Weskus goedgekeur het, moet gestuit word. Ons wil die skietwerk stop omdat ons ʼn kulturele erfenis en band met die see het.”

Aktiwiteite kan visbedryf skaad

Adams sê die bedrywighede gaan inwoners verhinder om die oseane vir toekomstige geslagte te bewaar.

Die geraakte gebied het ʼn ryk en produktiewe ekostelsel en vorm die onderbou van die grootste gedeelte van Suid-Afrika se kommersiële visbedryf. Ewe belangrik is die belangrike rol wat die see speel in die inkomste van kleinvissers wat langs dié gedeelte van die kus woon.

“Stokvis en snoek is veral belangrik hier. Snoek, wat inheems aan die streek en baie gewild onder plaaslike klante is, speel veral ʼn kritieke rol in die inkomste van die meeste van ons plaaslike vissermanne,” sê McDaid.

“Volgens kennersverslae kan die snoek se gedrag ontwrig word deur die seismiese bedrywighede en kan dit hul vreetplek en voortplantingsgedrag raak, wat weer ʼn uitwerking op die toekomstige oorlewing van die visse kan hê.”

Die organisasie het ook sy kommer uitgespreek oor die departement van omgewingsake se klaarblyklike onvermoë om die oseane en omgewing veilig te hou. The Green Connection sê dit lyk of die departement meen sy wense is verhewe bo dié van kusgemeenskappe, terwyl breër openbare omgewingsregte oënskynlik geïgnoreer word.

“Ons maak staat op die oseaan vir ons inkomste en die bedrywighede wat verband hou met olie en gas veroorsaak ʼn te groot gevaar vir ons grootste en enigste bron van inkomste. Deur die oseaan en mariene ekostelsel in die gedrang te plaas, neem die kos uit ons monde,” sê Carmelita Mostert, ʼn inwoner van Saldanhabaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JM ·

Ons het ‘n stiksienige en selfsugtige regering wat net aan hul eie sakke dink. Mag hierdie hofsaak in die guns van die vissermanne beklink word!

Perdeby ·

En mag nog duisende mense sonder werk sit, want julle dink net julle eie selfsug, en nie aan die werksgeleenthede wat nie geskep kan word nie. Mosambiek gaan nou die geld maak wat SA in die water gegooi met die vorige een. Baie bly vir Mosambiek, geld en werksgeleenhede vir +- 1000 mense, en hopenlik gee hulle nie vir ‘n enkele SAfrikaner werk daar nie.

Marius ·

Die regering jaag net geld na en is meer as bereid om ons natuur en omgewing op te offer.

annie ·

Creecy en Mantashe is skynbaar nie meer onderdanig aan parlementsbesluite nie noudat die ou staatsgebou in Kaapstad onbruikbaar is. Creecy en De Lille stel regtig teleur; beide glo in vroueregte/-bekwaamhede, maar regtig, dan moet hul landsbelange eerste stel. Betaal ons regering die maatskappye om langs ons kus aan te jaag, of betaal hulle die regerende party vir die voorreg? Dis eintlik erg ironies dat Afrika kamma kla oor sg koloniale magte, maar wat gebeur?

SomeOne ·

is die boot wat die seismiese opnames maak al in ‘n hawe ?,
dit dryf dalk nog daar rond en doen die opnames sonder dat iemand dit agterkom

Pieter ·

Die anc kommuniste dink net aan hulle self hulle het nie saak met die land en sy mense nie. Al wat die anc soek is ons belasting geld en julle stemme.

Mariana ·

Ek hoop hul slaag in hul pogig om die spul te stop. Hierdie vissermanne en hul families is al vir baie jare deel van die Weskus en dit is hulle hele bestaan. Hulle verdien om gehoor te word en aan te gaan met hul lewens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.